GEORGE NUUS - "Gee my sjokoladekoek, rooi wyn en mooi meisies," sê die 99-jarige rolballegende, oom Johan (Klasie) Havenga.
Toe hy die geilgroen bane van die Lynnwood-rolbalklub in Pretoria op sy 99ste verjaarsdag op 6 November betree het, en die bal sorgsaam op sy regterhand geweeg het met 'n tegniek wat hy oor die jare verfyn het, was dit 'n groot oomblik vir die sportlegende.
Oom Johan, 'n ere-lewenslid van die George-rolbalklub, Eden-distrik rolbal en Eden Nomads, het verlede jaar na Pretoria verhuis waar sy drie seuns en hul gesinne hom in hul gesinskringe verwelkom het.
Die warm somerdag was sy 99ste verjaarsdag en hy was omring deur rolbalvriende en geliefdes. Presies soos wat hy dit wou gehad het.
Want op die rolbalbane was hy op sy gelukkigste al het hy ook deur die jare sy hand gewaag aan ander sporte soos rugby, tennis, pluimbal en gholf.
Hy het sy verjaarsdag met 'n ryk, donker sjokoladekoek met geurige versiering en ietsie te drinke in die klubhuis tussen sy seuns, familie en rolbalvriende gevier.
Hoe dan anders? Sjokoladekoek is immers een van die bestanddele wat hierdie boorling van De Aar, wat sy eerste vyf jaar in hierdie Noord-Kaap dorp deurgebring het, uitsonder as sy resep vir 'n gesonde, fikse en lang lewe. Steeds met 'n sterk stem en spitsvondig, het hy en sy rolbalmaats vir die dag, die strategie met die feeswedstryd bespreek en in 'n gees van vrolike sportmanskap die spel in die hitte voltooi.
Saam met hom op die baan was die president van die Lynnwood-rolbalklub, Christine Marais, onderpresident André Weber, Andy Anderson, Pieter Morkel en Wicus Kemp.
Vir Marais was dit 'n groot eer om op sy verjaarsdag saam te speel.
"Oom Johan het nog onlangs in 'n derde divisie klubwedstryd verskeie reguit lyne en 17 raakballe gespeel," vertel Marais trots oor die skraal speler met die groen hemp.
Vir die dag het sy medespelers almal hul hemde van verskeie rolbalprestasies met trots ter ere van die okkasie gedra. Want oom Johan is gesteld op tradisie en netjies op sy persoon.
Sy meld die sportorganisasie, Rolbal Suid-Afrika, het bevestig Havenga is een van die oudste aktiewe rolbalspelers ter wêreld.
Vir Havenga is dit 'n trotse prestasie om in sy rolbalklere van die Eden-distrik in die Suid-Kaap op die rolbalbaan op sy 99ste verjaarsdag te kon speel.
"Ek het in 2001 by die George-rolbalklub aangesluit en was van 2006 tot 2007 president van die klub. Dit was ook die wegspringblok vir talle van my ander prestasies op die baan," vertel Havenga.
Hierdie prestasies sluit in die verkiesing tot die Sportraad se ontwikkelingsbeampte van die jaar (2009), afrigter van die jaar (2011) en presidentstoekenning (2016). In 2016 is 'n oorkonde aan hom as sportlegende van die Wes-Kaap toegeken deur die minister van kultuur van die Wes-Kaap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’