GEORGE NUUS - 'n Troosdiens word vanmiddag (24 Maart) by die NG Moedergemeente vir wyle dr. Dale du Toit gehou. Du Toit het diep spore in die destydse Rhodesië en later in George getrap. In George was hy vir meer as 15 jaar hoof van die provinsiale hospitaal.
"Oom Dale" soos hy algemeen bekend was, is op 13 Maart oorlede. Hy was die afgelope vier jaar siek en 'n inwoner van Tuiniqua-versorgingsentrum.
Sy seun, Hugo du Toit, het Dinsdag vertel dat sy pa in 1928 in Victoria-Wes gebore is. Hy het in 1944 sy matriek aan Grey Kollege in Port Elizabeth geslaag.
Hy het daarna op 16-jarige ouderdom medies aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. In 1950 het hy sy studies voltooi en in 1951 by Morgenster-sendingstasie in die destydse Rhodesië by dr. Tommy Steyn aangesluit.
In 1953 is hy Brittanje toe vir verdere studie in onder meer chirurgie, tropiese medisyne en radiografie. Vier jaar later hy teruggekeer na Rhodesië en is toe met Lettie getroud. Hy het toe ook hoof van die hospitaal by Morgenster geword.
Een van die groot uitdagings waarmee hy destyds te doen gekry het was tuberkulose. Tydens sy werk daar het hy gesondheidsorg aan die landelike bevolking verleen en die regering het erkenning aan hom gegee.
In 1977 het die Du Toits na Suid-Afrika verhuis en in 1978 het die Universiteit van Port Elizabeth 'n ere doktorsgraad aan hom toegeken.
In 1979 het hy hoof van George-hospitaal geword. Hy was instrumenteel dat dit 'n opleidingshospitaal geword het. Du Toit was tot met aftrede in 1994 hoof van die hospitaal.
Volgens Hugo is die goue draad wat deur pa se lewe loop dat hy sy mediese loopbaan gebruik het as sendeling. Sy hele lewe was toegewyd aan die uitdra van die Evangelie en sy toewyding aan die lewensroeping was vir almal 'n voorbeeld.
Hy het 'n groot verskil in baie mense se lewens gemaak en kon met enigiemand gesels. Hugo het namens die familie sy dank uitgespreek teenoor Tuiniqua vir die versorging van sy pa en ook hulle hulp en steun aan die familie.
Du Toit word oorleef deur eggenoot, drie kinders, ses kleinkinders en twee agterkleinkinders.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'