GEORGE NUUS - Die man van George wat verlede Sondag 'n bloutjie geloop het toe hy sy splinternuwe Mustang afgeskryf het, sê die ongeluk het tydens 'n toetslopie gebeur.
Volgens hom het hy met die Mustang in Pioneerstraat, in die Pacaltsdorp-nywerheidsgebied agter Kloppers, gaan ry om die voertuig "beter te leer ken" toe die ongeluk plaasgevind het.
"Ek het in Pioneerstraat opgery toe my motor gruis wat in die pad gelê het, getref het. Ek het beheer verloor en in 'n munisipale kragboks vasgery," het hy vandeesweek aan die George Herald vertel. Hy het rugbeserings opgedoen is per ambulans na Mediclinic George geneem. Hy sterk tans tuis aan.
Kort voor druktyd het die George Herald egter kringtelevisie-beeldmateriaal ontvang wat wys hoe twee voertuie Sondagmiddag teen 'n hoë spoed in Pioneerstraat jaag. Die man het by navraag ontken dat hy aan 'n onwettige straatresies deelgeneem het.
Onwettige straatresies
Sakelui in die omgewing het bevestig daar word gereeld onwettige straatresies in Pioneerstraat gehou.
Volgens 'n eienaar van een van die besighede veroorsaak die gejaag oor naweke, veral Sondae, al maande lank 'n hoofpyn vir hom en die ander besigheidseienaars in die omgewing.
"Ons het al telkemale by die munisipaliteit en plaaslike verkeersafdeling gekla. Ek verstaan dis moeilik vir verkeersbeamptes om iets hieraan te doen, want die renjaers het spotters wat vir hulle uitkyk. Sodra 'n verkeersvoertuig sy opwagting maak, word hulle gewaarsku," sê hy.
Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor en 'n kragboks vasgery.
Wat sê die owerhede
Volgens plaaslike verkeershoof, Donovan Saptoe, is dit baie moeilik om onwettige straatresies te polisieër. "Ons werk daaraan om sekere maatreëls in plek te stel. Die nuwe toetsstasie sal byvoorbeeld fasiliteite bied wat spesifiek daarop gemik is om sulke voertuie van die pad af te trek vir onmiddellike padwaardigheidstoetse en soortgelyke aksies soos die uitreik van boetes.
Die George-verkeersafdeling sal voortgaan om die wet op ons openbare paaie af te dwing en sal enige onwettige straatrenjaer vervolg.
Geen planne vir resiesbaan
Waarnemende direkteur van die department van beplanning en ontwikkeling, Charles Lubbe, sê daar was vroeër vanjaar met die betrokke partye gesels, maar daar is ongelukkig geen beskikbare munisipale grond wat 'n resiesbaan in hierdie stadium kan akkommodeer nie.
"So 'n baan sal minstens 1 km hoëgehalte teer, wat opsigself baie duur is, bevat en waarvoor die munisipaliteit nie hulpbronne het nie."
Lubbe beveel aan dat die groep na privaat eiendom kyk. "Hulle moet egter die impak soos brandgevare, geraas en gesondheids- en veiligheidskwessies vir bestuurders en toeskouers in gedagte hou. Dit beteken dat dit nie naby enige residensiële gebied sal kan wees nie. Hoewel dit as 'n wettige sport erken word, moet dit op 'n georganiseerde en verantwoordelik manier hanteer word," sê Lubbe.
Die gruis in die pad waar die bestuurder beheer oor sy voertuig verloor het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'