GEORGE NUUS - George se eie gospelsanger, Gregory Noble, laat nie gras onder sy voete groei nie en spog deesdae met sy eie TV-program, Gospel met Gregory, op Onse TV.
Die eerste uitsending van 10 voorafopge-neemde programme, was op Sondag 15 Augustus op Onse TV te sien. Onse TV is 'n kanaal beskikbaar op Starsat-dekodeerders of kan by www.onsetv.co.za gesien word.
"Dis 'n ongelooflike geleentheid wat ek gekry het om 10 episodes vol plaaslike talent bekend te stel op Onse TV. Dis 'n jare lange droom wat eindelik waar geword het. Dit wys jou net, moenie ophou droom nie. Met harde werk en toewyding, kom sukses," sê Noble
Vyf van die tien programme is in Pacaltsdorp by die gewilde Oom Bull Coffee Shop in Missionstraat opgeneem en die ander vyf in Kaapstad.
"Tydens die programme kuier ek saam met plaaslike gospelsangers en gesels met hulle oor hul sangtalent en hul kinderjare. Ons beoog ook om kore, asook a capella-groepe eie aan ons gemeenskap se kultuur, op te neem. Ons wil ook ons dank uitspreek teenoor ons borg, MicFin, wat vir ons die geleentheid moontlik maak", sê Noble.
Tydens verlede Sondag, 22 Augus-tus, se episode van Gospel met Gregory, het Germaine Leonard, 'n musiekonderwyser van Parkdene Sekondêr, wat oorspronklik van die Kaap af is, saam met Noble gekuier. Hulle het saam gospelmusiek gemaak en onder andere gesels oor Leonard se liefde vir musiek en sy grootwordjare saam met sy ouma en oupa.
"Die reaksie op ons eerste twee uitsen-dings was fantasties en ek weet dit gaan nog baie groei. Daar is baie mense wat honger is vir opheffing - verál in die tyd waarin ons onsself bevind," sê Noble.
Eerskomende Sondag gesels Noble met Morné Gallant van Sedgefield en die Wesso's van Borcherds wat in 2020 aan die musiekprogram, Maak My Famous, deelgeneem het, sal ook eersdaags saam met Noble te sien wees.
Gospel met Gregory word Sondae om 11:30 uitgesaai met die herhaling om 19:00 en al die vorige uitsendings kan op www.onsetv.co.za gesien word.
Eersko-mende Sondag kuier Noble saam met Morné Gallant (links) van Sedgefield. Regs is Noble se sleutelbord-speler, Jason Galant saam met hulle op die stel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'