RUBRIEK - Vir baie mense is slange die mees gevreesde diere op aarde. In volkekunde is hulle ‘n toonbeeld van euwels en onheil. Daarteenoor is daar ouere volke wat glo dat slange wys is en helende krag besit.
Daar was volke wat slange aanbid het. Vandag is daar steeds diesulkes in die Amerikas. Daar is ook geglo dat slange onsterflik is, waarskynlik omdat hulle vervel.
Die Griekse god van geneeskunde, Aesculapius, is voorgestel met ‘n stok in die hand, waarom ‘n slang gedraai is. Die huidige embleem van die mediese groep in die algemeen, is ‘n gevleuelde stok waarom twee slange gedraai is.
Daar is meer as 2 600 soorte slange op die aardbol, hoofsaaklik in die warmer streke. In Nieu-Seeland kom geen slange voor nie. In Suid-Afrika is daar meer as honderd slangsoorte met sowat die helfte giftig.
Slange was onlangs baie in die nuus. Vir my is die merkwaardigste, snaakste verhaal, die een van Linden Booth, waarvan ek ‘n vertelling die eerste keer direk uit Baviaanskloof gehoor het. (Erkenning gaan ook aan Hanti Otto wat hieroor in die media berig het.)
Die storie.
Na vyf uur se ry vanaf "Die Kloof" Kaap toe, vang Linden se oog aan die passasierskant van sy Toyota Verso ‘n "gelerige, groterige slangkop" onder die paneelbord. Linden het besef dat sy hand in doerie rigting moes sak om die ratte te verwissel. Hy kon die voertuig gestop kry "sonder om die motor om te gooi". Daar sit hy op ‘n klip en wag ‘n uur lank. Maar Meneer Slang verskyn nie.
Linden was reeds naby Worcester. Hy onthou toe dat daar in die dorp ‘n "slangplek" was. Hy moes in die Kaap gaan oorslaap en het die nodige klere by hom gehad. Hy het as voorsorg soveel as moontlik van die klere om sy onderlyf gedraai. Hy jaag ‘n angswekkende rit van tien minute na Worcester en bereik die Kleinplasie-buitelugsentrum . . . Net om ingelig te word dat die slangsentrum nie meer bestaan nie. Maar hulle gee die naam en kontakbesonderhede van Andre du Preez van Silverfox Snake Rescues.
Du Preez daag vinnig op. Vyf-en-veertig minute lank soek hulle. Uiteindelik loer twee slangogies deur twee moergaatjies by die noodwiel agter in die kattebak. Du Preez het die slang van 1,3 meter uitgehaal. Hy het beraam dat die gedehidreerde dierasie langer as tien dae in die motor moes gewees het. Die slang is water aangebied en het vyf minute lank gedrink. Drie groot dooie muise was ook op die spyskaart en is snel verorber.
In die wilde dele van Baviaanskloof staan gewone voertuie soms lank buite in onbruik weens die onbegaanbare aard van die paaie. Dis hoe en waar slang se kind besluit het om die passasiersvoertuig ‘n tuiste te maak.
Linden het foto’s van al die aspekte van die petalje geneem. Dit is aangestuur Kaap toe en is erken as die beste verskoning nog vir laat kom by ‘n vergadering. En die oorspronklike rede vir die onrus was veilig!
Inspekteer tog deeglik jou voertuig as dit iewers ingegrendel gestaan het!
Na vyf uur se ry vanaf "Die Kloof" Kaap toe, vang Linden se oog aan die passasierskant van sy Toyota Verso ‘n "gelerige, groterige slangkop" onder die paneelbord. Linden het besef dat sy hand in doerie rigting moes sak om die ratte te verwissel. Hy kon die voertuig gestop kry "sonder om die motor om te gooi". Daar sit hy op ‘n klip en wag ‘n uur lank. Maar Meneer Slang verskyn nie.
Linden was reeds naby Worcester. Hy onthou toe dat daar in die dorp ‘n "slangplek" was. Hy moes in die Kaap gaan oorslaap en het die nodige klere by hom gehad. Hy het as voorsorg soveel as moontlik van die klere om sy onderlyf gedraai. Hy jaag ‘n angswekkende rit van tien minute na Worcester en bereik die Kleinplasie-buitelugsentrum . . . Net om ingelig te word dat die slangsentrum nie meer bestaan nie. Maar hulle gee die naam en kontakbesonderhede van Andre du Preez van Silverfox Snake Rescues.
Du Preez daag vinnig op. Vyf-en-veertig minute lank soek hulle. Uiteindelik loer twee slangogies deur twee moergaatjies by die noodwiel agter in die kattebak. Du Preez het die slang van 1,3 meter uitgehaal. Hy het beraam dat die gedehidreerde dierasie langer as tien dae in die motor moes gewees het. Die slang is water aangebied en het vyf minute lank gedrink. Drie groot dooie muise was ook op die spyskaart en is snel verorber.
In die wilde dele van Baviaanskloof staan gewone voertuie soms lank buite in onbruik weens die onbegaanbare aard van die paaie. Dis hoe en waar slang se kind besluit het om die passasiersvoertuig ‘n tuiste te maak.
Linden het foto’s van al die aspekte van die petalje geneem. Dit is aangestuur Kaap toe en is erken as die beste verskoning nog vir laatkom by ‘n vergadering. En die oorspronklike rede vir die onrus was veilig!