Volgens Blandile is daar ‘n ewige vlieë- en vlooiplaag wat saam met die algemene onhigiëniese toestande gesondheids-risiko’s vir hom en sy gesin inhou.
Sy vrou, Berenice Juries, het reeds twee ongebore babas op sewe maande verloor en hulle glo dit hou regstreeks verband met hul lewensomstandighede. Juries is nou vir die derde keer swanger en vrees vir die baba se lewe.
Ander kant van die draad
Die bestuurder van die varkboerdery, Adam Roelf, verduidelik dat die varke "eerste daar was", nadat die George-munisipaliteit, aan wie die grond behoort, hul toestemming vir die bedryf daarvan verleen het.
"Ons het hierdie mense toegelaat om hier te kom bly uit die goedheid van ons hart, aangesien hulle nêrens anders gehad het om heen te gaan nie.
"Nou kla hulle oor die varke wat kwansuis ‘n gesondheidsprobleem is. Ons oumas en oupas het ook vroeër op plase gebly met ‘n varkhok net agter die huis. Hoekom was dit nie vir húlle ‘n probleem nie?" sê Roelf, wat betrokke is by die Masekane Farmer’s Association van Lawaaikamp.
‘n Besoek van die owerhede
Die Eden-munisipaliteit se Departement van Omgewingsgesondheid, die brandweer, DBV en lede van die polisie het die perseel op 29 Desember verlede jaar besoek.
Volgens Blandile het die owerhede ná hierdie besoek belowe om die varke te skuif, maar die teëlery brei inteendeel net uit.
Volgens Clifford Mdingi, hoof van Omgewingsgesondheid by Eden, was die area waar die varke aangehou word in ‘n uiters onwenslike toestand tydens die inspeksie. Die gebiede rondom die klaers (waaronder Blandile) se huise was ook baie vuil.
Hy het die Omgewingsake-departement en Tegniese Dienste van die George-munisipaliteit op 4 Januarie in dié verband gekontak en hulle het op dieselfde dag klaers se huise skoongemaak. Die aanhou van diere op die perseel bly egter steeds ‘n tameletjie, het hy gesê.
Met Eden se tweede besoek aan die perseel op 14 Januarie, is gevind dat die omstandighede waarin die diere aangehou word, nie verbeter het nie.
Geen regulasies vir diere
Uit verdere navrae blyk dit dat die George-munisipaliteit nog nie regulasies in plek het met betrekking tot die aanhou van diere in woongebiede nie. André Smith, senior bestuurder van George se Omge-wingsake-departement het gesê die wetsontwerp is wel reeds gefinaliseer en by die raad ingedien vir goedkeuring, waarna dit gepubliseer sal word vir publieke deelname.
"Die regulasies met kommentaar sal dan weer by die raad ingedien word. Ná goedkeuring sal dit na provinsie gestuur word vir publikasie in die amptelike Staatskoe-rant."
Die proses behoort teen Junie gefinaliseer te wees.
Wat beteken dit?
Volgens Smith kan die klaers uitsien na ‘n lewenstylverbetering in die nabye toekoms. "Die raad pas tans 'n verordening toe oor die aanhou van diere wat in 1989 aanvaar is. Die betrokke eienaars van varke in Borchards het reeds kennisgewings ontvang waarin hulle versoek is om die diere vanaf hul persele of aangrensende raadsgrond te verwyder.
Indien die varke nie binne 14 dae verwyder word nie, kan die diere geskut word." Hy het gesê die raad wil ‘n wen-wen situasie daarstel waarin varkboere op alternatiewe grond hervestig kan word. "'n Inspeksie van moontlike terreine gaan deur verskillende munisipale en staatsdepartemente gereël word om moontlike grond vir die aanhou van diere te probeer identifiseer. Sodra hierdie inligting bekend is, sal 'n opvolg-vergadering met die gemeenskap en diere-eienaars gereël word om die oplossings te bespreek.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
Die twee gesinne: Van links is David Tarantaal met sy dogtertjie Davidene (2) en sy ma Sarie. Langs haar staan Berenice Juries en haar man Nkululeko Blandile, met hul dogter Beronique (9) en Ronaldo Tarantaal (7) heel voor.