Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Inwoners van Moeggeploeg en ander informele nedersettings, insluitend Moeggehuur, Katdoring en Schaapkop, is erg geraak deur swaar reën die afgelope naweek.
Van die inwoners is die afgelope twee dae by die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal, asook New Dawn Park se saal, gehuisves.
Vroeër vanaand het die inwoners uit desperaatheid in die straat voor die gemeenskapsaal in Pacaltsdorp betoog. Hulle wou weet hoekom George-munisipaliteit "hul hande was as dit kom by hul kwessies".
Die inwoners wil toegelaat word om na hul wonings terug te keer om herstelwerk aan hul wonings te doen aangesien dit moontlik later in die week weer gaan reën.
Charles Lubbe, direkteur van behuising, het die groep se kwessies aangehoor. Die inwoners wou by hom antwoorde hê oor hoe lank hulle nog in die gemeenskapsale moet bly. Hulle het ook gesê hulle besef die raad kan nie nou huise aan hulle verskaf nie, maar hoop hulle kan gehelp word met boumateriaal sodat hulle self hul wonings in Moeggeploeg kan regmaak.
Raadslede Virgill Gericke en Teresa Fortuin het die groep kalmeer en was met die polisie en wetstoepassing in gesprek.
Lubbe het onderneem om die kwessies met munisipale bestuurder, Trevor Botha, op te neem. Hy het gesê hy, of 'n afgevaardigde van die munisipaliteit, gaan môre terugkom met antwoorde op die mense se vrae.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'