GEORGE NUUS - Drie onderwysers van Pacaltsdorp het erkenning gekry vir hulle harde werk en toewyding nadat hulle genomineer is vir die Nasionale Onderwysertoekennings.
Larochelle McKirby, 'n onderwyser in wiskundige geletterdheid by Pacaltsdorp Sekondêr, het 'n tweede plek gekry in die kategorie vir uitnemendheid in die gebruik van tegnologie in die klaskamer.
In dieselfde kategorie is Edmondo van der Berg van Pacaltsdorp Primêr deur beoordelaars in die topvyf geplaas. Nog 'n onderwyser van Pacaltsdorp Sekondêr, Caileen Joubert, het in die topvyf geëindig in die kategorie vir uitnemendheid in sekondêre onderwys.
Die toekennings is op Vrydag 1 September tydens 'n funksie in die Kelvin Grove Hotel in Newlands, Kaapstad oorhandig.
Werk graag met jongmense
McKirby, wat in 2015 by Pacaltsdorp Sekondêr aangestel is nadat sy die vorige jaar daar geproef het, sê sy hou van mense en die lekkerste is om met jongmense te werk, want hulle is gretig om te leer.
Sy sê die armoede en huislike omstandighede van leerders is 'n groot uitdaging. "Maar 'n mens kan daaraan werk. Ek vertel gereeld vir my leerders dat 'n mens elke dag op 'n skoon bladsy begin."
Sy gee klas in wiskundige geletterdheid, 'n vak waarvoor sy as skoolkind 'n liefde ontwikkel het. "Ek het besef dat daar verkeerdelik 'n stigma aan die vak kleef, wat ek wil verander deur my klasse."
Sy sê die gebruik van tegnologie in die onderwys gaan verder as projektors en interaktiewe witborde - daar is uitstekende opvoedkundige toepassings (toeps) wat kinders laat leer deur te speel.
Sy het 'n honneursgraad in rekenaar-geïntegreerde opvoeding agter haar naam en is 'n gesertifiseerde Intelopleidingsbeampte wat ander opvoeders oplei in die gebruik van tegnologie in die onderwys.
"Dis lekker om deur hierdie tipe toekennings erkenning te kry, want dit motiveer 'n mens en ek glo dit dien ook as motivering vir ander opvoeders want dit toon dat 'n mens se werk raakgesien word. Dis 'n voorreg om Pacaltsdorp Sekondêr op so 'n vlak te verteenwoordig."
Besonderse verhouding met leerders
Joubert is deur 'n kollega en die onderwys-distrikskantoor genomineer. Haar besondere verhouding met die leerders en toegewydheid aan die beroep laat haar uitstaan. Sy hou sedert 2014 by Pacaltsdorp Sekondêr skool.
"Die interaksie met leerders is die deel van my beroep wat ek die meeste geniet. Dit het altyd gevoel asof die beroep my gekies het. Alles het net in plek geval sedert ek begin swot het, ek het net gevoel dis waar ek hoort."
Sy sê onderwysers het baie uitdagings, maar sy fokus op wat sy kan beheer en vermag. Joubert het aan Groot-Brak Sekondêr gematrikuleer voordat sy 'n BA en hoëronderwysdiploma aan die Kaapstad Universiteit en BEd Honneurs aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal het.
Larochelle McKirby van Pacaltsdorp Sekondêr het 'n tweede plek gekry in die kategorie vir uitnemendheid in die gebruik van tegnologie in die klaskamer en Edmondo van der Berg van Pacaltsdorp Primêr is ook in die topvyf in hierdie afdeling.
Tegnologie bevorder leer by PPS
Van der Berg, wat die afgelope vier en 'n half jaar by sy alma mater, Pacaltsdorp Primêr skoolhou, sê hy probeer altyd om lesse interaktief aan te bied, want dit maak die leerders opgewonde oor hulle werk. Deur ook speletjies in sy lesse te gebruik, leer die kinders sonder dat hulle dit besef.
Hy inkorporeer tegnologie ook buite die klaskamer en het 'n aanlynplatform vir die graad 7's geskep sodat hulle tuis skoolwerk kan doen en toegang het tot ekstra opvoedkundige aktiwiteite. Sy YouTube video's help met die kinders se leerproses en is ook op onderwysers gemik.
Hy sê die skoolhoof, Clifton Titus, is oop vir nuwe idees. "Dis 'n groot aanmoediging en die kultuur van samewerking onder almal by die skool, maak ook dat 'n mens lus is om nuwe dinge te probeer."
Van der Berg het sy BEd aan die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha verwerf nadat hy eers ná skool as klankingenieur gekwalifiseer en gewerk het. "Ek het besef ek wil iets doen wat 'n groter impak maak."
Aanlynberoepstoetse wat hy in daardie tyd gedoen het, het toe almal onderwys aangedui as die mees gepaste beroep.
In sy agterkop het die woorde van mnr. Lewis, een van sy onderwysers by Pacaltsdorp Sekondêr, ook altyd bly vassteek - dat hy enigiets kan bereik wat hy wil.
"Ek wil dieselfde positiewe impak wat hy op my gehad het, op kinders se lewens hê. Ons onderwysers het 'n groot rol om kinders te laat besef dat hulle 'n plekkie in die wêreld daar buite het. Ons moet ook seker maak dat hulle by hul skool gelukkig en veilig voel, en gemotiveer word om eendag iets te bereik."
Caileen Joubert is onder die topvyf van die Nasionale Onderwysertoekennings in die kategorie vir uitnemend-heid in sekondêre onderwys.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’