GEORGE NUUS - Die ouer van 'n gr.10-leerder van Pacaltsdorp Sekondêr is ontsteld omdat sy nie geken is in 'n tugverhoor waar sy die klaer was nie. Die leerder se ma sê sy moes onlangs in die George Herald (Tugverhoor eindig met boete, bl.6) lees dat daar 'n skikkingsooreenkoms tussen die skoolhoof Clifton Titus, en 'n tweede party bereik is.
Aangesien sy die klag teen Titus gemaak het, was sy effens verward oor hoekom sy nie betrokke was of geken is nie.
Sy was aanvanklik nie tevrede met die hoof se weergawe van gebeure nadat haar seun met 'n bebloede mond by die huis aangekom het nie, en het 'n klag van aanranding teen hom gemaak.
Die insident waarby die seun seergekry het, spruit uit 'n struweling tussen hom en Titus oor 'n wolmus van 'n ander leerder wat glo gesteel was. Die leerder vertel, nadat die hoof hom geskud, sy sak uitgepak en nie die wolmus gekry het nie, wou hy sý mus vat, tot die gesteelde een gekry is.
Titus het by navraag gesê dat hy sy straf gekry het en dit so aanvaar.
Bronagh Hammond van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sê die ooreenkoms is tussen Titus (werker) en die WKOD (werkgewer) bereik. Sy het egter niks gesê oor hoekom die ouer nie geken is nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'