GEORGE NUUS - Twee motorongelukke het vroeër vandag, Saterdag 9 Desember, op 'n nat Outeniquapas plaasgevind.
In die eerste voorval was die bestuurder van 'n motor en twee passasiers onderweg uit die rigting van Waboomskraal na George toe die bestuurder na bewering beheer verloor het.
Volgens die bestuurder van die voertuig het hy 'n kol diesel getref wat op die oppervlakte van die pad gelê het. Die motor het 'n paar maal getol en teen die muur aan die krans se kant van die pad tot stilstand gekom. Geen beserings is aangemeld nie.
Kort daarna, in dieselfde omgewing, het 'n voertuig op sy dak te lande gekom toe dié bestuurder ook beheer oor die voertuig verloor het.
In dié stadium is geen ernstige beserings bevestig nie. George Herald wag vir terugvoer op media navrae rakende beide ongelukke.
Later vanmiddag is die bestuurder van 'n minibus taxi op die N2 tussen Pacaltsdorp en Thembalethu in hegtenis geneem ná hy glo onder die invloed van drank bestuur het en 'n ongeluk veroorsaak het.
Terugvoer hierop word van die polisie afgewag en meer inligting sal bekendgemaak word wanneer dit beskikbaar is.
Die toneel op die N2 vroeër vandag. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’