GEORGE NUUS - Die Wes-Kaapse onderwysdepartement moet akrobatiese toertjies doen om finansieel kop bo water te hou.
Wes-Kaapse minister van onderwys, David Maynier, het verlede week terugvoer gegee oor hul benarde situasie tydens 'n debat oor die 2024/2025-aanpassingsbegroting in die parlement.
Hy het ook verwys na die bedrag van R600 miljoen wat deur die Provinsiale Tesourie "ongeoormerk" is om 'n mate van bewegingsvryheid binne die departement te bied, om die groeidruk in die 2025-jaar te hanteer. Hierdie fondse word aan infrastruktuurprojekte soos nuwe skole, vervangingskole en bykomende klaskamers toegeken.
Daar heers egter kommer onder die breë publiek oor moontlike oorvol klaskamers en toenemende druk op onderwysers in die nabye toekoms, weens die snoei van poste en toename in leerders wat verhuis na die Wes-Kaap.
Op 'n vraag oor die onderwyser-leerder-verhouding het Kerry Mauchline, woordvoerder van Maynier, gesê die huidige verhouding is 1:34.2 en volgende jaar word dit na verwagting 1:36.7
Sas du Plessis, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in die Wes-Kaap, het by navraag gesê die proses van botalligheid by 'n skool en die gepaardgaande plasing van hierdie botallige onderwysers bly 'n komplekse kwessie.
"Op hierdie stadium is daar al onderwysers geplaas en sekeres het aangedui dat hulle die beroep deur aftrede of ander redes gaan verlaat. Indien 'n plasing nie plaasvind nie, bly die onderwysers in hul poste met volle betaling en is steeds deel van die skool se rooster en funksionering vir 2025.
"Dat sekere skole beïnvloed gaan word, is beslis so. Indien die diensstaat van 'n skool 'n afname van onderwysers toon en die botallige onderwysers verlaat die skool, gaan die beheerliggaam beslis planne moet maak om die status quo te handhaaf."
Sas du Plessis, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in die Wes-Kaap.
"Kwintiel 1 tot kwintiel 5 skole word almal deur hierdie proses geraak. Kwintiel 4 en 5 skole het dalk die hulpbronne om beheerliggaamposte aan te stel, maar dit is nie 'n gegewe binne die ekonomiese klimaat nie.
"Vir 'n kwintiel 1 en 2 skool, wat geen skoolgeld vorder nie, kan die probleem groot wees indien klasse dalk saamgesit moet word."
Du Plessis het benadruk dat die proses van botalligheid by 'n skool op die getal kinders gegrond is. "Dit is waar die aanpassing nou ter sprake is sodat skole aan die ratio 1:36 voldoen soos wat voorgeskryf word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’