GEORGE NUUS - Die belangrikheid van onderwys met die oog op die toekomstige leierskap in die werkerskorps is deur Alan Winde, Wes-Kaapse premier, tydens sy besoek aan die George-sakekamer op Saterdag 3 Junie uitgelig. Hy was die gaspreker.
Die geleentheid is onder meer bygewoon deur Leon van Wyk, George se burgemeester, adv. Gert van Niekerk, onderburgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, dr. Michelle Gratz, George se munisipale bestuurder en verskeie sakeleiers.
Winde het die geleentheid gebruik om sakeleiers in te lig oor van die werksaamhede en prioriteite van die Wes-Kaapse regering. Hy het ook gewys op die belangrikheid van samewerking in die streek.
As dit nie gebeur nie sal die streek nie mededingend wees nie.
Winde het verwys na die groot getalle mense wat van ander dele van die land na die Wes-Kaap verhuis. Dit plaas druk op bronne en die stelsel.
Verlede jaar het 129 000 mense na die provinsie verhuis. Dit het positiewe en negatiewe gevolge. Sy standpunt is dat die voordele daarvan waar moontlik, benut moet word.
Onderwys en gesondheidsorg vorm die grootste dele van die provinsiale begroting. Winde wou by aanwesiges weet wat is die items op hul risiko-register in hul sake-ondernemings.
Hy sou dink dit behoort te wees:
- Energie soos elektrisiteit
- Misdaad
- Mobiliteit soos byvoorbeeld die beweeg van mense en goedere.
Winde het gevra of onderwys op enige van die aanwesiges se lys is.
Aanwesiges tydens die geleentheid.
Volgens Winde wys onlangse inligting dat agt uit 10 leerlinge nie sinvol kan lees nie. "Stel u dit in die vooruitsig dat u ondernemings nog in 20 jaar gaan bestaan? As leerders deur die stelsel kom waarvan agt uit 10 nie behoorlik kan lees nie, wie gaan die hoof finansiële beamptes en uitvoerende direkteure wees. Sulke vaardighede gaan dan super skaars wees."
Volgens Winde is energie 'n korttermynrisiko en onderwys 'n langtermyn-risiko. Die vraag is watter rol speel ondernemings in onderwys. Almal wil hê die ekonomie moet groei. Onderwys moet 'n prioriteit wees.
In die Wes-Kaap gee die provinsiale regering daagliks twee maaltye per dag aan meer as 500 000 leerlinge.
Winde het daarop gewys dat wêreldwyd lees hoof- uitvoerende beamptes gemiddeld 60 boeke per jaar. In Suid-Afrika is bevind dat 47% van alle huishoudings geen boeke in hul woonplekke het.
Alan Winde, Wes-Kaapse premier aan die worod tydens die geleentheid.
Winde is tydens vraetyd gevra om meer te vertel van die verhoudings en samewerking tussen die nasionale en Wes-Kaapse regering.
Hierop het hy gesê daar is soms gevegte, maar dat hy probeer verhoudings bou en hy probeer dit professioneel hou.
Arno de Vos, 'n eiendomsontwikkelaar en Leon van Wyk, George se burgemeester tydens die geleentheid. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’