GEORGE NUUS - Die Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF's) het regtig die hand van polisie en wetstoepassing nodig om misdaad in hul gemeenskappe effektief hok te slaan. Só sê Andries Louw, voorsitter van Rosemoor GPF.
Dié GPF en ander in sektor 3 sê hulle het onlangs 'n gemeenskapsvergadering gehou waar slegs sowat 30 mense teenwoordig was.
"Ons het die hele saal uitgeboek. Ons het 150 mense verwag. Misdaad raak almal, nie net die mense in die lokasie nie."
Louw is gefrustreerd oor die min of soms geen ondersteuning wat die GPF van die polisie kry. Hy sê as hul hande nie so afgekap was nie, kon hulle baie meer gedoen het. "Al weet ons waar die kriminele woon, waar hulle die gesteelde goed stoor, waar die dwelmhuise is, kan ons steeds niks doen nie behalwe dit aanmeld." Hy sê wanneer hulle opvolg, word net gesê daar was nog nie tyd nie.
Louw voel dis 'n skande dat hulle elke dag hul lewens in gevaar stel vir die veiligheid van leerders by skole en gemeenskaplede en nie die regte ondersteuning kry nie. Hy en ander GPF-lede sê hulle is geregistreerd, maar dit is asof hulle nie bestaan nie.
Volgens hom sal mense geskok wees om die wapens wat hulle oor naweke konfiskeer, te sien. Hy sê hy doen die werk omdat hy omgee vir sy gemeenskap en nie wil sien dat enigiemand seerkry nie, maar as die mense, wat verwag daar moet dag en nag gepatrolleer word, nie eens 'n klein bydrae wil lewer vir petrol of baadjies as dit koud is nie, laat dit hulle voel niemand gee om nie.
Sers. Christopher Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê hulle is nie bewus van enige klagtes van enige GPF's oor verhoudings met die polisie nie. "Dit is belangrik om kennis te neem dat daar platforms beskikbaar is waar sulke kwessies bespreek kan word."
Spies sê die konsep van gemeenskaps-polisiëring is die verhouding tussen die polisie en die gemeenskap binne 'n sektor. Hy sê stasiebevelvoerders en/of 'n verteenwoordiger is deel van die strukture en enige kwessies rakende die polisie moet daar aangespreek word.
Volgens hom word daar gereelde vergaderings met al die betrokke rolspelers en lede van die GPF's gehou, en die betrokke lede word aangemoedig om op die platforms met die polisie te kommunikeer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'