GEORGE NUUS - 'n Inwoner van Blanco, Marilee Alberts-Barnardt eis 'n ondersoek nadat 'n blouapie dood is aan beserings wat hy waarskynlik opgedoen het toe hy naby haar en haar man, Juan se huis, geskiet is.
Die voorval het verlede Saterdagaand, 12 November, plaasgevind. Sy het vanoggend die voorval aan George Herald bevestig.
Die egpaar is groot diereliefhebbers en het oor die jare gewoond geraak aan die apies by hul huis. Die apies het nog nooit enige skade aan hul huis aangerig nie. Sy het onlangs gesien die ma-apie is dragtig en het 'n kleintjie gehad.
Saterdagaand omstreeks 21:30 het hulle gehoor hoe skreeu die apies. Sy en haar man het gaan ondersoek instel. Hulle het op die baba-apie afgekom. Hy het nog geleef, maar padgegee. Later het hy teruggekeer, maar hulle kon hom nie vang nie.
Hulle het die DBV gebel wat hulle na CapeNature verwys het. Hulle kon nie 'n verteenwoordiger van CapeNature in die hande kry nie.
Sondag het hulle sonder sukses probeer om die apie op te spoor. Laat Maandagmiddag na werk het hulle die apie naby hul huis gevind. Hy was reeds dood.
By nadere ondersoek het hulle vasgestel hy is geskiet. Dit lyk of iemand die apie met 'n windbuks geskiet het. Volgens haar treur die ma en dit lyk of sy na die kleintjie soek.
Alberts-Barnardt is baie ongelukkig en sê dit is onverantwoordelik om met 'n vuurwapen/geweer in 'n beboude te skiet. Daar is ook ander diere in die gebied. So ’n koeël kon selfs 'n kind getref het.
Sy wil hê die aangeleentheid moet ondersoek word.
George Herald het navraag by CapeNature gedoen. Sodra dit ontvang word, sal dit bygewerk word.
Die plek waar die apie begrawe is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'