GEORGE NUUS - Die Rosemoor-tehuis vir bejaardes het verlede week 'n besoek gehad van 'n ondersoekspan van die departement van maatskaplike ontwikkeling.
Volgens die George Herald se inligting, was dit 'n verrassingsbesoek. Twee personeellede is in die daaropvolgende dae geskors.
Esther Lewis, departementele woordvoerder, het die besoek bevestig en gesê dit was 'n moniterings- en evaluasiebesoek.
"'n Verslag met bevindings en aanbevelings word tans saamgestel. Ek kan geen verdere kommentaar lewer totdat die verslag voltooi is nie."
Sy het navrae rakende die skorsings na die ouetehuis se bestuur verwys. Kennith Afrika, voorsitter van die bestuursraad, het die skorsings bevestig, maar wou geen verdere inligting bekendmaak nie.
"Dit is 'n interne werker- en werkgeweraangeleentheid wat nie in die media gevoer gaan word nie."
Die tehuis is in 2015 onder administrasie geplaas, maar die bestuur is maande later weer aan die bestuursraad oorhandig. Dit gaan vir jare reeds gebuk onder 'n wolk van konflik en bewerings van oneffektiewe bestuur.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'