Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Drie sementbankies vir kinders om hul eie te maak, kleurvol te verf en te gebruik - omgeebankies vir dae wanneer jy voel jy kan doen met 'n drukkie.
Hierdie oulike projek deur die vroue van Solidariteit Helpende Hand (SHH) se George-tak het verlede Vrydag vorm aangeneem met 'n aflewering van drie omgeebankies by Laerskool George-Suid.
"Die idee is dat kinders eienaarskap van hierdie bankies neem," het die projekbestuurder, Charmaine Boshoff, verduidelik. "Hulle moet dit versier soos hulle wil en voel dit behoort aan hulle."
'n Hele span vroue van Solidariteit Helpende Hand het die verrigtinge bygewoon en lekker met die kinders gesels terwyl hulle gewag het vir die aflewering van die bankies, wat van Sedgefield vervoer is. Die projek is geborg deur Décor Hardware.
"Ons gesels met die maatskaplike werkers by skole en vind uit wat die spesiale behoeftes is," het SHH se Suid-Kaap streek-organiseerder, Marlise Labuschagne, gesê.
"Wanneer daar nuwe maats by die skool aankom, of dalk die dag nie lekker voel nie, is omgeebankies dalk 'n goeie idee. Hulle weet dan, as hulle alleen voel, kan hulle by die bankie gaan sit. Ander kinders sal hulle raaksien en 'n drukkie gaan gee. Ons wil positiwiteit uitstraal."
VIDEO: Omgeebankies sê: 'Jy's nie alleen'
Die hele projek skakel baie mooi in by die skool se mantra - werk hard en droom groot, het skoolhoof Sas du Plessis gesê.
"Dit kan 'n bankie wees vir omgee, of droom, of sit en dink oor die werk wat jy nog moet doen. So ek gaan verseker dit gebruik!"
Die span van Solidariteit Helpende Hand is van links: Marlise Labuschagne (Suid-Kaap streek-organiseerder), Chantelle Landman, Ursulla Stassen, Alisha de Lange (Wes-Kaap streekorganiseerder), Lize-Mari Stassen, Alna de Waal en Annelie Goosen. Voor is Charmaine Boshoff. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'