GEORGE NUUS - Nie net het die jaarlikse Outeniqua-rolstoelwedren (OCC), wat op Saterdag 15 Oktober gehou is, voordeel getrek uit die hulp van twee privaat maatskappye, Henra en een van die maatskappy se asphalt verskaffers nie, maar Carpe Diem skool kan ook nou spog met 'n nuwe geteerde pad.
Toe Alewijn Dippenaar, geleentheids-direkteur van die OCC, aanpassings moes maak aan die roete, was sy bekommernis pure verniet.
Dippenaar het Maandag 31 Oktober vertel dat daar gewoonlik van Yorkstraat gebruik gemaak word. Omdat daar vanjaar aan die pad gewerk is, moes deelnemers by die skool draai.
Hulle kon nie in Langstraat, wat reg voor die skool is draai nie, want die pad is te nou. Daar moes toe by die dienshek van die skool ingegaan word en by die hoofhek uitbeweeg word.
Dit het die organiseerders met nog 'n dilemma gelaat. Die stuk van sowat 120 m was hoofsaaklik grondpad.
Hy het toe by Robbie Searle van Henra gaan aanklop en wou weet of hulle nie grond kan inry om die pad sterker te maak nie.
Toe hy die Vrydag, die dag voor die geleentheid daar aankom, was sy verbasing groot. Daar is begin om 'n volwaardige teerpad te bou.
Die koste daarvan beloop sowat R160 000, maar die maatskappye het dit gratis gedoen. "Ons is in ekstase. Ons het hulle gevra om net 'n pad te maak. Hulle het in goedheid opgetree en iets gedoen vir die OCC en die skool."
Volgens hom het die maatskappye geen teenprestasie gevra nie en dit gratis gedoen. "Ons is baie dankbaar. Nog nooit in my lewe het ek gesien dat mense net so aan boord kom nie."
Die pad word geteer.
Die pad word geteer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'