GEORGE NUUS - Die insameling van fondse vir die aanbieding van die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) later vanjaar vorder goed.
Die organiseerders het daarin geslaag om genoeg geld in te samel vir die aanbied van die wedren op Saterdag 14 September, maar benodig nog geld vir ander aktiwiteite wat verband hou met die wedren.
Alewijn Dippenaar, voorsitter van die reëlingskomitee, het Dinsdag kommentaar gelewer oor vanjaar se wedren. Hy het gesê sedert 'n beroep verlede week op sakeondernemings gedoen is om betrokke te raak, was daar reaksie en sakeondernemings het onderneem om R20 000 te skenk.
In die stadium benodig die organiseerders nog sowat R60 000. Dit sal spesifiek aangewend word om 'n maaltyd die Vrydag, die dag voor die wedren, aan deelnemers te kan verskaf.
Die organiseerders gaan ook intussen voort met fondsinsamelingsinisiatiewe om die fondse aan te vul.
Altesaam 18 gastehuise aan die Tuinroete het elkeen twee nagte se verblyf met ontbyt vir twee mense, beskikbaar gestel. Dit word opgeveil en mense kan daarop bie. Altesaam sewe van die veilings is reeds afgehandel.
Mense wat belangstel om te bie of nagte beskikbaar wil stel, kan Jonel Ackerman bel by 082 339 3343 of die webtuiste with Heart besoek, by https://withheart.co.za/auctions.
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, het gesê die instansie is dankbaar vir sakeondernemings wat betrokke raak en die geleentheid steun. "Elke bietjie help. Al is dit klein bydraes van individue."
Hy het ook die munisipaliteit bedank vir die rol wat hulle speel om die geleentheid moontlik te maak.
"Dit is belangrik dat die OCC 'n sukses sal wees."
* Reëlings vir die aanbied van aanstaande jaar se wedren is ook aan die gang. Tydens 'n vergadering van die reëlingskomitee verlede Donderdag het dit aan die lig gekom dat daar al mense is wat dit ernstig oorweeg om vir aanstaande jaar se wedren "aan boord te kom".
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'