TUINROETE NUUS - Tydens die 90-jarige feesvieringe van die Hoër Landbouskool Oakdale, is oudskoliere wat so ver terug as 1950 in matriek was, hier op Oakdale verwelkom. Volgens die skoolhoof, André Latsky, was dit baie lekker om weer "al die kinders by die huis te hê." Op die vraag wat hom gedurende die naweek opgeval het, was sy antwoord: "Die trots, respek en blydskap waarmee ons oudleerders terugkom skool toe."
Die betrokkenheid van oudskoliere het sedert Donderdagaand tot die sukses van die fees bygedra. Tydens die Oakdale-skouspel het nege oudleerders 'n sangaand van hoogstaande gehalte aangebied. Die Oakdale-sangtalent oor verskillende jaargroepe heen het die gehoor van 120 mense op indrukwekkende wyse bekoor.
Dit was Saterdagaand tydens die oudskolierdinee opvallend met watter dissipline en respek hulle opgetree het toe sprekers aan die woord was. Staaltjies uit vervloë dae het opnuut bygedra tot die ryke tradisie van die skool en het Oakdale opnuut 'n stukkie "nuwe" geskiedenis ontdek.
Mnr. Danie Grundlingh (1956) was een van die leerders wat by die aanplanting van die pekanneutbome net agter die skool betrokke was. 'n Nuwe tendens by die jonger geslag is om met hulle oudskolier-oortrektrui en -das skoolgeleenthede by te woon. Na afloop van 'n naweek soos hierdie, is die Oakdale-band van trots, dissipline en samehorigheid opnuut versterk.
Oom Danie Grundlingh was een van die leerders wat in 1952 die pekanneutbome op Oakdale geplant het. Van links is Danie van Deventer (1956), Danie Grundlingh (1956) en Gawie Volschenk (1950).
Die hoogtepunt van die fees was verseker die dankseggingsdiens wat Sondag deur Riekert Botha aangebied is.
Oakdale bedank die kerke en gemeenskap van Riversdal vir ondersteuning, liefde en betrokkenheid oor die afgelope 90 jaar.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'