GEORGE NUUS - Die minister van plaaslike regering, Anton Bredell, se dringende ingryping is versoek ná 'n besluit wat Maandag in die George-raad geneem is.
Die voormalige DA-raadslid Flip de Swardt, wat onlangs as sekretaris van die DA se kiesafdeling in George verkies is, is Maandag in die geslote deel van die raadsitting tot 'n lid van die munisipaliteit se interne ouditkomitee, die George Oudit- en Prestasiebestuurskomitee, verkies.
Dit is teenstrydig met bepalings rondom die samestelling van so 'n komitee, wat lede se politieke onpartydigheid vereis.
Ook Roslyn Saptoe is verkies, desondanks 'n aanbeveling deur Louis Fourie van die munisipale direktoraat finansiële dienste, om haar nie te oorweeg nie.
Saptoe het vantevore aansoek gedoen om op die komitee te dien, maar is afgekeur weens haar man se pos as 'n senior bestuurder by George-munisipaliteit.
Die situasie het nog nie verander nie en dit is ook so uiteengesit onder die agendapunt.
Die ander drie nuwe verkose lede is dr. Adele Potgieter (voorsitter), Francois Barnard en dr. John Carstens.
Die item het in die vertroulike deel van die agenda gedien, waartydens die publiek en media toegang tot die raad geweier word.
'n Senior lid van die DA is aanvanklik die taak opgelê om die twee persone se name voor te stel, maar het botweg geweier.
Die name is eindelik deur DA-raadslid Stag Cronjé voorgestel en is deur burgemeester Melvin Naik gesekondeer.
Die interne ouditkomitee bestaan uit vyf lede en speel 'n belangrike oorsigrol oor die raad se finansies. Onder die item, soos aan die raad voorgelê, word duidelik uiteengesit dat individue met enige konflik van belange met die munisipaliteit, of verbonde aan politieke strukture of familielede in diens van die munisipaliteit in senior posisies nie oorweeg behoort te word nie.
Vrae oor die onafhanklikheid van die komitee word nou deur opposisiepartye gevra.
Voorsitter Stoffels geskok
Joe Stoffels, huidige voorsitter van die interne ouditkomitee (tot 30 April), het by navraag bevestig dat hy die spesiale raadsvergadering bygewoon het.
"Om te sê ek was geskok oor die besluit om Flip de Swardt en Roslyn Saptoe in die ouditkomitee aan te stel, is te sagkuns gestel," het Stoffels gesê.
ANC-raadslid Piet van der Hoven het Anton Bredell, minister van plaaslike regering, gevra om dringend in te gryp.
"Ek dink die beginsels van goeie bestuur en oorsig is geoffer op die altaar van politieke opportunisme. Ek weerhou my van verdere kommentaar, aangesien ek nie die ouditkomitee in enige verdere kontroversie wil betrek nie."
Naik het by navraag gesê hy ontken die aantygings dat De Swardt se aanstelling om politieke redes is, ten sterkste.
"Hulle is 'n span, nie een van die lede kan op hulle eie besluite maak nie. Almal was in oorweging geneem, diversiteit is in ag neem, so ook kandidate se kennis van munisipale en politieke agtergrond."
Oor Saptoe het Naik gesê: "Dis mense se persepsies, ek gaan nie verdere kommentaar daaroor uitspreek nie."
Opposisie spoel mond uit
ANC-raadslid Piet van der Hoven het Maandagmiddag in die raadsaal 'n e-pos aan Bredell gestuur, waarin hy sy beswaar oor De Swardt se aanstelling aanteken en vra dat Bredell dringend ingryp.
"As Bredell nie na my terugkom nie, sal ek die openbare beskermer en die nasionale minister van koöperatiewe regering, dr. Zweli Lawrence Mkhize, om hulp nader."
PBI-raadslid Virgill Gericke het hom uitgespreek teen De Swardt se aanstelling. "As jy 'n politieke aanstelling maak, hoe kan jy onafhanklikheid in die ouditproses verseker? Dit laat ‘n wrang smaak dat daar so gedruk is om hierdie persoon aan te stel. Dit is absurd en korrup. Almal weet hy beklee 'n posisie in die DA."
Gericke het gesê talle hoog gekwalifiseerde mense het aansoek gedoen. "Die raad kan die besluit herroep en mense kan steeds teen die besluit appelleer. Die oorblywende applikante het die reg om aan te dring om redes waarom hulle nie aangestel is nie."
VF Plus-raadslid Gert van Niekerk het gesê Saptoe se man is 'n senior in verkeer en sit in elke GO GEORGE-vergadering. "Hoe onafhanklik gaan sy wees? Ons is geweldig bekommerd oor die outonomiteit van hierdie komitee want ons voel die persone wat aangestel word, is DA-marionette."
Roslyn Saptoe is nog 'n nuwe lid van die interne ouditkomitee wie se aanstelling die opposisie-raadslede bevraagteken.
Wat sê De Swardt?
De Swardt het by navraag gesê niemand het hom gevra om aansoek te doen nie.
"Ek het gereageer op 'n advertensie omdat ek glo ek beskik oor die kundigheid om 'n verskil te maak. Ek ken die risiko's en die finansies van die munisipaliteit baie goed. Ek het gevoel ek kan 'n goeie bydrae lewer vir my dorp," het hy gesê.
"Ek dink die persone wat hier te velde trek is mense wat politiek speel vir politieke doeleindes."
De Swardt het verder gesê die ouditkomitee tree as 'n liggaam op en nie as 'n individu nie.
"As al die persone in SA in regeringsposisies hul lidmaatskap van party strukture moet stop sal die regering in duie stort," het hy gesê.
"Ek beskou dit as 'n manier van die ANC om dit aan die klok te hang, maar dis 'n ongegronde beskuldiging. Ek dink my integriteit die afgelope aantal jare is 'n bewys dat ek 'n saak sal beoordeel op die meriete van die saak en nie politiek sal speel nie.
"Die regsadviseur van die raad (Johan van Schalkwyk) en die munisipale bestuurder (Trevor Botha) het geen probleem daarmee dat ek op die ouditkomitee dien en op die bestuur van 'n politieke party nie. Om die waarheid te sê dit was nooit 'n voorwaarde in die advertensie nie, en al die jare wat ek in die plaaslike regering gedien het, het dit nooit ter sprake gekom nie."
Uittredende ouditkomitee-voorsitter Joe Stoffels is geskok oor van die nuwe aanstellings op die komitee.
De Swardt het gesê hy was vir ses jaar voorsitter van die finansieskomitee van die raad en is vertroud met alle risiko's wat die munisipaliteit in die gesig staar. "Ek dink ek beskik oor eienskappe wat van my 'n goeie lid van die ouditkomitee sal maak," het hy gesê.
"Daardie besluit is deur die koukus geneem, en nie deur Naik nie."
Roslyn Saptoe kon teen saktyd nie bereik word vir kommentaar nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'