GEORGE NUUS - 'n Proses is aan die gang wat voorsiening maak dat 'n onafhanklike buite instansie aanbevelings aan die George-stadsraad kan maak oor aanstellings in die munisipale ouditkomitee en die voorsitter van die komitee. Dit sal egter eers deur die stadsraad goedgekeur moet word.
Dit blyk uit 'n gesprek wat George Herald met George-burgemeester, Leon van Wyk, gehad het oor woelinge rondom die komitee wat nie tot ruste wil kom nie.
Dit het onlangs gegons oor die skielike terugtrekking van 'n item tydens die maandelikse stadsraadsvergadering wat voorsiening maak vir die aanwysing van 'n nuwe voorsitter.
In die item is onder meer voorgestel dat Flip de Swardt die nuwe voorsitter van die munisipale ouditkomitee sou word. Hy dien al meer as drie jaar in die komitee en is onlangs aangestel vir nog 'n termyn. In die item is ook voorgestel dat Christo Lamprecht vir nog 'n termyn in die komitee dien.
'n Afskrif van 'n brief, "Fluitjie blasers dus is ons identiteit nie bekend nie" is laat verlede week vertroulik aan die koerant gegee. Dit is gedateer 29 Mei en glo aan Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad en Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, gestuur.
Daarin word onder meer beweer dat daar politieke inmenging is in die aanstelling van lede van die ouditkomitee.
Van Wyk het Dinsdag gesê hy is nie bewus van die brief nie. Dit is ook nie waar dat daar politieke inmenging was of is nie.
Volgens hom is daar 'n tydjie terug begin om na die werk van die komitee te kyk. Hy het self van hul vergaderings gaan bywoon. Daar is vasgestel dat die komitee gereeld vergader, selfs tot 10 keer per jaar. Daar is ook gekyk hoe lede besoldig word. Lede ontvang vergoeding daarvoor en hulle kan eis vir die aantal ure bestee aan die komitee.
"Ons het gaan kyk wat is die gebruik by ander munisipaliteite. Daar vergader hulle vier keer per jaar en hoogstens vyf keer per jaar."
Die komitee se werksaamhede word gereguleer deur 'n handves. In die huidige formaat is daar onder meer selfbeoordeling.
Daar is nou besluit dat die handves aangepas moet word en die raad sal daaroor moet besluit. Die mikpunt is dat die komitee meer gefokusde en meer strategiese werk moet doen.
Van Wyk het benadruk dit gaan nie oor individue nie, maar oor die werk wat gedoen moet word. "Daar is nuwe uitdagings en ons sal wil sien dat die komitee daarmee moet saamstap."
IN SHORT:
A process has been started that will allow an independent outside organisation to make recommendations to the city council regarding the position of chairperson for the municipal audit committee and other committee members. Before this can happen, the charter that regulates the work of the committee will have to be changed and approved by the city council.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'