Update
GEORGE NUUS - Gaan die gewilde Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) nog op 12 Mei voort? Dit is een van die vrae wat ontstaan het oor die geleentheid nadat dit onder die George Herald se aandag gebring is dat van die atlete duidelikheid wil hê oor die jongste situasie sodat hulle hul reisreëlings kan finaliseer.
Van hulle moet onder meer visums bekom. Dit is ook uitgewys dat die geleentheid sal plaasvind slegs enkele dae na die algemene verkiesing op 8 Mei. Die nuwe datum is bekendgemaak voordat die verkiesingsdatum aangekondig is. Vrae word ook gevra oor hoe die geleentheid vanjaar gefinansier gaan word.
Ansie Swart, wat in die verlede vir vyf jaar die hooforganiseeder was en vir 10 jaar op die reëlingskomitee gedien het, het by navraag gesê sy het navrae van atlete oor die reëlings ontvang. Die atlete het haar gekontak omdat hulle weet sy was in die verlede betrokke. Sy het haar teleurstelling uitgespreek oor die vordering met die reëlings en die gebrekkige kommunikasie met atlete.
Volgens haar is van die atlete met wie sy kontak gehad het, ook teleurgesteld. Hulle het begin reëlings tref nadat die datum van 12 Mei aangekondig is. Van hulle reëlings het intussen moontlik deur die mat geval.
Uit eie ervaring weet sy dat as dinge nie nou al in plek is nie, gaan die organiseerders sukkel om alles betyds gereed te hê.
Sy het benadruk dat as die OCC nie vanjaar in George plaasvind nie, gaan die stad sukkel om dit daarna weer aan te bied.
"Die geleentheid is so uniek dat ek glo ander dorpe, stede of provinsies gaan dit opslurp as dit nie in George aangebied word nie."
'n Atleet van die Suid-Kaap wat verkies om anoniem te bly, het gesê hy het weer navraag gedoen, maar kry geen terugvoering van die organiseerders nie. Hy sukkel ook om 'n inskrywingsvorm te kry.
Trevor Botha, George se munisipale bestuurder, het gesê die beplanning in die stadium is dat dit op 12 Mei voortgaan. "Ons is hard besig met die reëlings en seker te maak om al die maatreëls in plek te stel."
Hy het bygevoeg: "Daar is nog 'n paar dinge waaroor duidelikheid gekry moet word en 'n aankondiging sal deur Melvin Naik, die burgemeester gemaak word."
Volgens Botha is die plan om dit steeds op 12 Mei te hou - ongeag die verkiesing op 8 Mei. Die datum van die geleentheid is bepaal in ooreenstemming met atlete se internasionale deelname.
Lees vorige artikels hier:
- OCC needs volunteers
- 2019 OCC date announced
- Athletes want a date for OCC
- OCC date announced this week
- May day for OCC
- OCC 2019 going ahead
- Gaan die OCC weer plaasvind in Februarie?
- Aankondiging oor OCC dalk volgende week
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'