GEORGE NUUS - Die pleidooi van 'n inwoner van Borcherds oor verstoppings in die rioolstelsel in Nelstraat, het verlede week aandag geniet. 'n Ondersoek na Linda Smit se bewering dat die ligging van die pyp verkeerd is, het meegebring dat die rioolpyp vervang is.
Nelstraat se plakkerskamp het onlangs weer deurgeloop toe 'n rioolpyp verstop het.
'n Span van siviele dienste het verlede Dinsdag, 10 September, ondersoek ingestel. "Daar is bevind dat die pyp nie genoegsaam val nie, en op sekere plekke sak. Die oorsaak is 'n kombinasie van faktore wat lokale versakking insluit," het Wesso gesê. "Daar is besluit om die 30-meter pypleiding heeltemal te vervang." Die werk is verlede Donderdag voltooi.
"Dit is egter belangrik dat die gemeenskap verstaan dat die pyp se vervanging ongelukkig nie die hoofoorsaak vir verstoppings is nie, en nie rioolprobleme sal verhoed nie," het hy gesê. Die drie toilette ter sprake is naby 'n deurloop wat beteken dat dit - bo en behalwe die 20 gesinne wat die toilette gebruik - ook deur verbygangers gebruik word.
Vandalisme kan steeds plaasvind en ongewenste voorwerpe kan in die toilette gegooi word wat verstoppings veroorsaak.
Die munisipaliteit doen 'n beroep op die publiek om niks anders as toiletpapier in toilette af te spoel nie. Hulle vra dat mense help om bewustheid rondom hierdie saak te bewerkstellig.
Die rioolpypleiding in Nelstraat, Borcherds, word voortdurend verstop.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'