GEORGE NUUS - 'n Nuwe program, wat in die uitdagende tye van Covid-19 help om bejaardes hul vrese te laat oorkom, word met groot sukses by Huis JJ Watson aangewend.
Op 'n baie informele wyse raak inwoners deur gesprekvoering met mekaar van hul vrese en frustrasies ontslae.
Dit is die breinkind van dr. Okkie Stander, bestuurder van Huis JJ Watson. Hy het gesê deur 'n geleentheid te skep waar 'n persoon kan gesels, kan hy/sy vrese ontlaai. "Die onderwerpe is juis daarop gemik om soveel moontlik persoonlike menings te kan opper en op ander se opinies te reageer.
Op hierdie baie eenvoudige wyse is daar reeds groot sukses behaal. Ouer persone leer nou om negatiewe denke na positiewe denke om te skakel en ook om mekaar te bemoedig en te help."
Volgens hom moet in gedagte gehou word dat die hele wêreld al amper 'n jaar lank gebuk gaan onder die pandemie.
"Ons kan die pandemie met al sy uitdagings, bestuur deur die navolging van internasionale en nasionale protokolle. Daar is egter een aspek van die pandemie waarvoor daar nog geen protokolle is nie en dit is die psigiese versorging van mense wie se sosialisering (kontak met die onmiddellike omgewing) ingeperk is.
"Diesulkes sukkel om die aanpassings positief aan te pak. Daar is ook 'n groep wat net eenvoudig nie die ingeperktheid kan hanteer nie en vir hulle is dit 'n traumatiese belewenis.
"Dit wat aan die persoon bekend was soos byvoorbeeld sy ruimtelike spasie word ingeperk. Hy mag nie meer besoekers ontvang nie, sy geestelike leefwêreld, die kerk, is nie meer toeganklik nie, groot gebeurtenisse in sy lewe soos verjaarsdae, begrafnisse en troues kan hy of nie meer bywoon nie of slegs in 'n beperkte mate. So 'n persoon ervaar angs en dit kan later tot depressie oorskakel."
Volgens Stander word die gesprekke op Woensdae en Donderdae gehou en duur sowat 45 minute. 'n Spesifieke onderwerp word elke keer bespreek soos byvoorbeeld verlies.
Verlies kan byvoorbeeld die afsterwe van 'n geliefde wees of 'n bejaarde wat nie meer self 'n afspraak vir 'n haarbestelling kan maak nie. Stander het gesê die idee is dat inwoners moet deelneem aan die gesprek en by mekaar leer.
Hy is gewoonlik die gespreksleier en die senior suster woon dit as 'n waarnemer by. Sy gee na die tyd terugvoer aan die ander personeel en dan word gekyk hoe van die voorstelle in werking gestel kan word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'