GEORGE NUUS - 'n Ingenieur van hier het vroeër vanjaar, ná 'n volle leweroorplanting ses en 'n half jaar gelede, met die engel in sy lewe getrou.
Stiaan Adams (39) woon al 17 jaar in George en werk as elektriese ingenieur by Clinkscales Maughan-Brown Raadgewende Ingenieurs. Hy en Elsje Kritzinger het in April getrou nadat hy haar 'n dekade gelede ontmoet het. "Ek moes dit al vroeër gedoen het, maar die tyd was nie reg nie. Ondanks my hardkoppigheid en selfs deur die oorplanting het sy my nog altyd bygestaan. Sy is werklik 'n engel wat vir my gestuur is," het Adams gesê.
Tydens sy korrespondensie verlede week met die George Herald was Adams in Johannesburg vir 'n opvolgondersoek. Hy het op 4 Januarie 2013 'n volle leweroorplanting ontvang en nou, jare later, gaan dit nog baie goed met hom. "Ek is werklik geseënd," het hy gesê.
"Orgaanskenking was nie voorheen iets waaraan ek gedink het nie, maar na dese sal ek altyd mense aanmoedig om wel orgaanskenkers te word. Jy kan iemand se lewe red," het hy gesê.
"Ek het Wilson's Disease gehad. Dit is 'n oorerflike siekte wat veroorsaak dat jou lewer nie van die koper in jou liggaam kan ontslae raak nie. Die koper bou op en die lewer kan later nie meer funksioneer nie. Wat skrikwekkend is, is dat jy dit nie sal agterkom tensy jy spesifieke toetse ondergaan nie. Die simptome begin met moegheid, en wie gaan nou dokter toe wanneer jy moeg is?"
Stiaan Adams het op 6 April vanjaar, ses en 'n half jaar na sy leweroorplanting, met die liefde van sy lewe, Elsje Kritzinger, getrou.
Adams was baie gelukkig, want sowat drie maande voor die oorplanting het sy werk van die personeel vir mediese toetse gestuur. Dit is waar dokters dit opgetel het.
"Vanaf George is ek na Kaapstad en toe Johannesburg, waar ek die leweroorplanting by Donald Gordon Mediese Sentrum gekry het. Hulle het geweet ek het net 'n dag of twee oor en ek was die mees kritieke pasiënt van 40 wat op die waglys was," het Adams gesê.
"Daar gaan so baie dinge deur 'n mens se kop, maar ek dink dit is die ergste vir die pasiënt se familie, wat moet wag en hoop en bid dat die muntstuk op jóú kant moet val. Die Here was, en is, ongelooflik goed vir my. Dit was absoluut 'n wonderwerk en ek kan dit steeds nie glo dat ek 'n tweede kans op die lewe gekry het nie."
'n Ingenieur van hier het vroeër vanjaar, ná 'n volle leweroorplanting ses en 'n half jaar gelede, met die engel in sy lewe getrou.
Adams onthou sy skuldgevoel na die operasie. "Ek het 'n lewer en 'n tweede kans gekry, waar 'n ander familie iemand aan die dood moes afstaan," het hy gesê. "Ek het iemand anders se lewe(r) gekry. Ek weet nie wie die persoon was of hoe hy gelyk het nie. Ek weet wel hy was reeds breindood verklaar met sy liggaam op masjiene. Sy familie is gevra of die masjiene afgesit kan word om my lewe te red..."
Die lewe na die oorplanting was aanvanklik vreemd, deels weens die sterk medikasie. Drie maande later was Adams terug by die werk en na sowat 'n jaar het hy weer sy "ou self" gevoel.
"Daar is 'n paar aanpassings wat jy moet maak: gesonder eet, geen drank nie, medikasie elke oggend en aand... maar dit is geen opoffering in vergelyking met wat jy gekry het nie," het Adams gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'