Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Vyf huise is vanoggend in Golden Valley aan bejaarde begunstigdes oorhandig. Wes-Kaapse minster van menslike nedersettings, Tertuis Simmers, het die oorhandiging bygewoon. Simmers het tydens die geleentheid gesê dat 44 begunstigdes reeds hul intrek geneem het en dat verdere oorhandigings in November en Desember sal geskied.
Hy het nuwe eienaars gevra om te waak teen diegene wat hulle as vriende voordoen en spazawinkels in die huise wil bedryf. "Jou waardigheid is baie meer as 'n leë belofte," het hy gesê.
"Hierdie huise ontsluit 'n beter toekoms vir jou en jou gesin. 'n Beter lewe. As jy jou huis gee vir 'n spazawinkel het jy in die eerste plek nie 'n huis nodig gehad nie."
Simmers het gesê dat sommige van die begunstigdes wat vandag huise ontvang al vir meer as twee dekades op die behuisingswaglys is. "Maak van jou huis 'n tuiste," het hy gesê.
George-burgemeester Leon van Wyk, het die nuwe eienaars gevra om hul huise op te pas en te onderhou.
Kyk 'n video hieronder:
Simmers en sy span is nou op pad na Plettenbergbaai vir 'n besoek aan die Qolweni Fase 2A behuisingsprojek.
Die Golden Valley-behuisingsprojek het in 2019 begin en het 'n begroting van sowat R29 miljoen. 'n Totaal van 133 huise sal teen Desember aan begunstigdes oorhandig word.
Katryn (61) en Hendrick Boesak (53), 'n egpaar, ontvang hulle eerste huis. Hulle het vir meer as 20 jaar in 'n plakkershut gewoon.
Voorbeelde van die nuwe behuisingskema in Golden Valley.
Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'