GEORGE NUUS - Ná sy eerste week as skoolhoof van Hoekwil Primêr, stap Charl Kitching die toekoms tegemoet met 'n duidelike visie en diepgewortelde passie vir mense en onderwys.
"Ek glo om te lei deur jou eie voorbeeld, dit is waarom ek glad nie skaam is om my moue op te rol vir buitemuurse aktiwiteite nie," het Kitching gesê.
Hy skryf sy liefde vir onderwys grootliks toe aan die invloed van uitsonderlike onderwysers wat hom op akademiese en sportgebied gevorm het.
"Ek was bevoorreg om goeie mentors in my lewe te hê. Baie mense het tyd en moeite in my belê, en dit is vir my belangrik om dit terug te gee. My hoop is dat iemand eendag dieselfde vir my kinders en ander kinders sal doen," het hy gesê.
Kitching is gebore en getoë in George. Hy het sy laerskoolloopbaan by Laerskool George-Suid voltooi, waarna hy sy hoërskoolopleiding aan die destydse PW Botha Kollege, nou HTS Eden, ontvang het.
Hoewel hy nie op skool sterk kultuurge-oriënteerd was nie, het sport 'n groot rol in sy lewe gespeel. Ná skool het hy vir sowat sewe seisoene professionele rugby vir die SWD Arende gespeel. Sy loopbaan het hom ook na Kaapstad geneem waar hy vir Villagers uitgedraf het, asook oorsee na Italië.
Keerpunt met kniebesering
Dit was egter 'n ernstige kniebesering tydens die 2009-seisoen wat 'n keerpunt in sy lewe sou word. Sy vrou, destyds nog sy meisie en 'n onderwyser by Laerskool Outeniqua, het hom aangemoedig om by die skool se rugbyspan betrokke te raak - selfs op krukke.
"Dit is daar waar ek besef het: hierdie is iets wat ek kan doen. Ek het dit ongelooflik geniet om met die seuns te werk," vertel hy.
Wat aanvanklik soos 'n aantreklike idee van kort werksdae en afrigting gelyk het, het gou ontwikkel tot 'n roeping. "Ek het besef onderwys behels baie meer, maar dit het my die geleentheid gegee om my liefde vir mense en sport te kombineer."
In 2012 is hy en sy vrou getroud, waarna hulle 'n tyd lank in Suid-Korea Engels gegee het, 'n ervaring wat hy as verrykend beskryf.
Hy het intussen sy graad in onderwys aanlyn deur UNISA voltooi. Met hul terugkeer na Suid-Afrika in 2014 het Kitching sy formele onderwysloopbaan by Laerskool Outeniqua begin, waar hy vir 14 jaar diens gedoen het.
Hy noem dat mentors soos Johan Smit, die voormalige hoof van Laerskool Outeniqua, en die huidige hoof, dr. Nico Venter, 'n groot rol in sy ontwikkeling as opvoeder gespeel het. "Ek het van die beste jare van my lewe daar gehad. My wens is om oor tien jaar dieselfde van Hoekwil Primêr te kan sê."
Skoolhoof Kitching en die prefekte wys hulle is reg vir die jaar wat voorlê.
Juweel van 'n skool
Volgens Kitching is die skool reeds 'n "ware juweel", met 'n toegewyde personeelspan wat bestaan uit hardwerkende vroue wat hul werk met toewyding en 'n glimlag aanpak.
"Wat binne hierdie vier mure gebeur, is ongelooflik. Akademies is die standaard baie hoog," het hy gesê. Tog sien hy ruimte vir groei, veral op die gebied van sport en kultuur.
"Ons wil graag meer geleenthede skep, al bring dit uitdagings soos vervoer mee. Elke kind moet die kans kry om hul passie uit te leef."
Hy beklemtoon ook die belangrikheid van waardes in opvoeding: "'n Wyse man het vir my gesê jy kan die beste rugby- en netbalspelers hê, maar goeie waardes sal jou verder bring. Ons wil fokus op waardes en om goeie mense vir ons samelewing te kweek."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’