GEORGE NUUS - 'n Nuwe projek deur die plaaslike nie-winsgewende maatskappy Ryco Platforms, gaan na verwagting deure open en horisonne verbreed vir gospelsangers in die Suid-Kaap.
Die projek, Sing Gospel, het twee maande gelede afgeskop met 'n reeks gospeluitsendings op die plaaslike radiostasie Heartbeat FM waar een sanger elke Vrydag tussen 17:00 en 18:00 die geleentheid kry om op die lug gehoor te word.
Bykomend tot hierdie platform wat vir hulle gegee is om op te tree, gaan die deelnemende sangers aan die einde van week 20 van die radio-opnames, 'n mentorskapprogram deurloop. Hulle sal bekendgestel word aan kernaspekte van die musiekindustrie soos bemarking, besigheidsbeginsels en die reël van openbare optredes of konserte.
"Die mense wat ons betrek, sing reeds en/of is aktief by hulle kerk se musiek betrokke. Die probleem is dat baie van hulle nie weet wat die volgende stap is om hul sang verder te neem nie.
"Hulle wen dalk 'n sangkompetisie en dis waar dit eindig. Ons wil hulle help om wyer blootstelling te kry deur professionele stemopleiding asook die maak van CD's en video's.
"Dit word moontlik gemaak danksy die onderstening van plaaslike klankateljees," sê Ryco se uitvoerende hoof, Rhyno Davidson.
Sharifa Dudley koördineer die projek in die Tuinroete-distrik. Die opleiding word in samewerking met die Market Community Theatre, Mr REE Studios en ander vennote gereël en die program word moontlik gemaak deur Heartbeat FM en Fastrak-musiekwinkel.
Hy sê daar is 'n groot behoefte. Sangers kom vanoor die Tuinroete, Klein-Karoo en Langkloof-area, ook landelike gebiede. Twee sangers van onderskeidelik Uniondale en Riversdal het ook al opgetree.
Die program word moontlik gemaak danksy vrywilligers wat met die opleiding gaan help en radiostasies wat gratis blootstelling aan die sangers gee.
"Navan Thomas, klavierspeler, doen die begeleiding en die mediaspan is Wayden Roelfse en Jo Vernon Petersen (van Godeloos Produksie).
"Ons beplan ook om konserte en 'n groot gospelfees en -toekenningsaand aan te bied om blootstelling en erkenning aan die sangers te gee. Dit is alles om gospelsangers 'n kykie en gevoel te gee van die groter prentjie," sê Davidson.
"Ons het ook takke in Kaapstad, Gqueberha en Johannesburg oopgemaak. Ons sal ook in die nabye toekoms takke in Worcester, Kimberley en Bloemfontein vestig op grond van die aanvraag van sangers wat nasionaal na ons toe uitreik."
Rhyno Davidson, uitvoerende hoof van Ryco, by Melissa Snyman tydens die Sing Gospel-program op Heartbeat FM. Melissa is 'n gospelsanger van George.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’