GEORGE NUUS - Tertuis Simmers is die nuwe voorsitter van die DA se oosstreek. Ofskoon die streek eers op 7 November vergader om nuwe leierskap te kies, is Simmers (37) onbestrede tot voorsitter verkies nadat geen ander nominasies vir die pos ontvang is nie.
Die streek word in die DA as belangrik beskou en daar is 14 munisipaliteite. Dit strek oor 'n wye gebied en sluit in Hessequa, Mosselbaai, George, Knysna, Bitou, Oudtshoorn, Kannaland en Beaufort-Wes.
Simmers is 'n baie ervare politikus en is onder meer die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings. Hy is al byna 20 jaar betrokke by die DA. Hy was voorheen DA-sekretaris en -jeugleier van die streek.
Simmers kom in die plek van Jaco Londt (35) wat homself nie weer verkiesbaar gestel het nie. Londt, 'n parlementslid in die nasionale raad van provinsies, het homself verkiesbaar gestel vir die voorsitterskap van die party in die Wes-Kaap.
Simmers het Dinsdag gesê in die DA in die Wes-Kaap, is die oosstreek die enigste streek wat in 2019 gegroei het. Dit was onder moeilike omstandighede.
Volgens Simmers bly die party in die streek by sy beginsels. Hy neem besluite wat tot voordeel van die kiesers, sy openbare verteenwoordigers en sy strukture is.
Hy het gesê die 2021 munisipale verkiesing gaan interessant wees en dit is 'n groot uitdaging wat wag. Die DA beheer op die oomblik die meerderheid van die munisipaliteite in die oosstreek en sal poog om al die munisipaliteite met 'n volstrekte meerderheid te wen.
Die Covid-19-situasie het sosio-ekonomiese en politieke uitdagings na vore gebring. "Net soos dit tekortkominge uitgewys het, het dit ook vir my as openbare verteenwoordiger geleentheid gebied om sekere dinge aan die kiesers, openbare verteenwoordigers en aktiviste uit te wys."
Hy het benadruk die gemeenskap is die middelpunt en die DA fokus daarop. As voorsitter wil hy 'n "seisoen van aktivisme" laat ontwaak. "Dit gaan my fokus wees om pro-aktiewe aktiviste te laat ontwaak in die party se strukture wat tot voordeel van die gemeenskap is."
Londt het gesê Simmers het homself al keer op keer bewys. "Hy is uiters bekwaam. Die feit dat hy nie teengestaan is nie, spreek boekdele. Dit wys daar is stabiliteit in die streek. Die streek is in veilige hande en sy bewese rekord wys dat mense gemaklik is om die streek in sy hande te laat."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'