GEORGE NUUS -Die George-munisipaliteit se nuwe brandweerwa van R7,2 miljoen, wat sedert verlede week gereedstaan in Mitchellstraat, is 'n belangrike toevoeging tot die bestaande vloot beskou en versterk die stad se brandbestrydingsvermoë..
George-burgemeester, Leon van Wyk, was die geleentheidspreker by die amptelike ingebruikneming, wat deur verskeie belanghebbendes waaronder Theuns Naudé van Scania en Klaus Hörschläger van Rosenbauer bygewoon het.
Eenkant het die groot nuwe rooi brandweerwa gestaan - gereed. Tydens die geleentheid is 'n minuut van stilte gehandhaaf vir Michael von der Heyde, 'n bestuurder van Rosenbauer, wat onlangs oorlede is.
Die nuwe brandweerwa spog met baie moderne toerusting en sal nie net van waarde wees om brande te bestry nie, maar ook by ongelukstonele aangewend kan word.
Dit kan 3 000 liter water vervoer en beskik oor 'n spreier wat water 60 meter kan sprei. Die water kan teen 3 000 liter per minuut gespuit word.
Dr. Michele Gratz, George se munisipale bestuurder, het tydens die verwelkoming van aanwesiges gesê die wa is 'n eerste van sy soort in Suid-Afrika. Dis goed dat George aan die voorfront van tegnologie staan.
Van Wyk het gesê dis 'n trotse oomblik om dit in ontvangs te neem. Hy het lof gehad vir George se brandbestrydingspan en gesê die stad is bevoorreg om so 'n passievolle span te hê.
Volgens hom beteken George se groei meer en meer multi-verdieping geboue en woonstelle. Dit beteken dat daar na bykomende toerusting gekyk moet word.
Lede van George-brandweer saam met Leon van Wyk, George se burgemeester en dr. Michelle Gratz, George se munisipale bestuurder.
Die brandweerwa is nie net tot voordeel van George nie, maar die hele streek.
Naudé het gesê in die soort werk is daar geen plek vir foute nie. Dis baie belangrik om personeel so vinnig moontlik, maar ook veilig, op 'n toneel te kry.
Die brandweerwa kan versnel van 0 tot 80 km per uur in 28 sekondes. Dit kan 'n topspoed van 130 km per uur behaal.
Hörschläger het gesê dis duur toerusting. Dis egter waarde vir geld. Die maatskappy rus elke jaar byna 3 000 brandweerwaens regoor die wêreld toe.
Neels Barnard, George se brand-weerhoof, was duidelik trots. Hy het al baie jare uitgesien na so iets, en het gesê met so 'n brandweerwa kan net vorentoe beweeg word. George groei baie vinnig en sy hoogste prioriteit is dienslewering.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’