GEORGE NUUS - Omdat dit tydrowende en intensiewe insette vereis het om gereeld boeke wat die munisipale biblioteek aan die Tuiniqua-versorgingsentrum geleen het, te versorg en gereeld te ruil, het die sentrum besluit om hul eie biblioteek uit te bou en nie meer van die ander bilioteek se boeke gebruik te maak nie.
Die inwoners is groot dank verskuldig aan die George-biblioteek vir hul pragtige gebaar om daardie boeke altyd tot hulle beskikking te stel.
Onder die bekwame leiding van Susara en Eddie Durrant en die hulp van 'n toegewyde span helpers het Tuiniqua dan ook onlangs hul eie biblioteek van stapel gestuur.
Saam met die groot opgewondenheid daaroor is daar ook groot dankbaarheid teenoor 'afgetrede' helpers soos Sara Hendrikse en Corrie Koen wat vir lang jare stelselmatig gehelp het om die basis vir 'n eie biblioteek te vestig. Die bydraes wat skenkers van boeke gelewer het en nog steeds lewer is ook 'n riem onder die hart vir die inwoners en word hoog op prys gestel. Daarsonder sou die rakke maar leeg gebly het.
Goeie boeke bly altyd in aanvraag; daarom sal sulke skenkings vorentoe altyd verwelkom word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'