GEORGE NUUS - Inbrake, diefstal, onwettige dwelm- en drankhandel en voortdurende rusverstoring deur 'n onwettige kerk het inwoners van die Moeggehuur-woongebied in New Dawnpark radeloos.
Gevolglik het die leiers-forum van die gebied 'n noodkreet uitgestuur na die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Pacaltsdorp en op Maandag 1 Mei met die GPF-bestuurskomitee vergader waar hulle hul kommer en frustrasie kon lug.
Voorstelle oor moontlike samewerking met die forum en polisie is aan die GPF voorgelê. Uiteindelik is ooreengekom op praktiese stappe wat geneem sal word, met die belofte dat die GPF van hulp sal wees met skakeling met die polisie en munisipaliteit vir wetstoepassing.
Die leiersforum het tydens die vergadering gesê toe hulle vier jaar gelede uit nood in Moeggehuur kom woon het, het hulle gekom vir 'n beter, ordelike lewe. Hulle was almal huurders in agtertuine in die New Dawnpark-buurt voordat hulle hierheen verhuis het. Die onwettige handel het ongeveer twee jaar gelede begin kop uitsteek. Dit het die rus en orde in hulle lewens kom versteur.
Volgens 'n verklaring wat die leiersforum voor die vergadering uitgereik het, word harde musiek regdeur die dag en nag gespeel. Wanneer daar nie beurtkrag is nie, het hulle vir 24 uur van die dag geen rus nie.
"Dit raak onuithoudbaar en vir werkende mense is dit 'n onmoontlike situasie, want hulle kry snags geen rus nie. By die kerk is daar nie orde nie en daar is gereeld voorvalle van wangedrag.
"Dwelmhuise dryf handel asof dit normaal is om dwelms te verkoop en mense rook openlik dagga voor kleuters. Die dwelmhuise lok ongewenste karakters wat tot inbrake, diefstal en rowe lei.
LINKS: Die GPF-komitee en Moeggehuur-inwoners het Maandag 1 Mei vergader en ooreengekom op 'n effektiewe strategie om misdaad in dié woonbuurt aan te spreek.
'n Mens kan nie meer vir 'n naweek weggaan nie uit vrees dat jy niks sal oorhê wanneer jy tuiskom nie, want almal maak asof hulle niks sien nie en is te bang om betrokke te raak. Inbrake vind selfs in die dag plaas wanneer jy by die werk is. Ons kinders raak groot in dieselfde straat waar volwassenes helder oordag baklei en openlik sit en drink. Ons het hierheen gekom omdat ons in die nood was. Nou raak dit die duiwel se speelplek. Daar is geen reëls nie."
Die kerkleier het by navraag gesê hy sal op 'n latere stadium kommentaar lewer.
n George Herald het in die uitgawe van 13 April 'n brief van Moeggehuur se leiers geplaas waarin hulle hulle sterk uitspreek teen die misdaad. Daar is egter verkeerdelik verwys na Moeggeploeg, 'n ander woongebied wat in Seaview, Pacaltsdorp, geleë is.
Lede van Moeggehuur se leiersforum en Pacaltsdorp GPF is van links: pastoor Peter Juter (GPF), Ashley Phillips, Julia Klassen (GPF), Samantha Sampson (voor), Davedene Michaels, Blanche Claassen (GPF, agter), Marileza Fortuin, Charly Daman (GPF-voorsitter), Elandre Laminie (leiersforumvoorsitter), Joan Cornelius en Julian Folding (leiersforum se sekretaris). Foto's: Alida de Beer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’