Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Dit het alles meer as 70 jaar gelede in die poskantoor op 'n Vrystaatse dorpie begin. En die afgelope Dinsdag het Kobus (92) en Tokkie Taljaard van George, teruggedink aan die dag presies 70 jaar gelede (8 Oktober 1949) toe hulle op Ladybrand, Vrystaat getroud is.
Dit is duidelik dat hulle steeds baie lief is vir mekaar terwyl hulle met die George Herald gesels oor hul lang pad van liefde en geluk.
Hulle is nog redelik gesond en drie van hul vyf kinders leef nog. Hulle het 11 kleinkinders en nege agterkleinkinders.
Kobus het destyds op Hobhouse gewerk. In 'n stadium was hy die bestuurder van die Ladybrandse Koöperasie se tak in Hobhouse. Tokkie het op die buurdorp Ladybrand gewoon en het vir 'n tyd by die poskantoor op Hobhouse gaan aflos.
Eendag het Kobus 'n pakkie daar kom afhaal en was al uit die poskantoor toe Tokkie agter hom aanroep. "Ek wou weet of hy verlief is want hy het die pakkie vergeet." Sy onthou Kobus was 'n mooi man.
Kobus kan nie presies onthou wat die dag gebeur het nie. Hy onthou wel hy was haastig om terug te kom by die werk. Hy het Tokkie raakgesien. "Hobhouse was 'n klein plekkie en 'n mens het vreemdelinge onmiddellik raakgesien."
Na 70 jaar van getroude lewe is Kobus (92) en Tokkie Taljaard (90) van George nog steeds baie gelukkig. Hulle het Dinsdagoggend hul 70ste huweliksherdenking saam met vriende gevier. Voor langs Tokkie staan Doreen Botha. Agter staan Rit en Carolin Lottering en Hesta Young.
Later het hy Tokkie vir 'n afspraak genooi en die liefde het begin blom. Nadat hy ouers gevra het, het hulle verloof geraak en is op Ladybrand getroud. Dit was 'n gewone tradisionele troue. Die aand het hulle op 'n plaas naby Hobhouse gaan oornag.
"Niemand het geweet waar ons die aand gaan slaap nie," het Kobus vertel.
Iets wat Tokkie na al die jare bybly is die lied, I walk with God wat 'n man op hul troue gesing het. Dit is deels die rede vir hul suksesvolle huwelik. "Ons het dit al die jare probeer toepas en doen dit steeds," het Tokkie gesê. "Die Here se hand was altyd daar - al het dit soms moeilik gegaan."
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Kobus het hulle mekaar vertrou. Sy advies aan jongmense is: "Loop 'n pad saam met die Here." Hy glo mense skei te maklik.
Albei is dit eens dat mense moet trou eerder as net saambly. Hulle lees graag en beide is lief vir Bybelstudie. As hulle weer kans kry om te trou? Sou hulle beslis weer dieselfde keuse maak.
Die egpaar se drie kinders wat nog leef is: Kobus Taljaard (68) wat in Middelburg, Mpumalanga woon, en Fred Taljaard (65) en Susan Wellsted (60) beide van George.
Na 70 jaar van getroude lewe is Kobus (92) en Tokkie Taljaard (90) van George nog steeds baie gelukkig. Hulle het Dinsdag hul 70ste huweliksherdenking gevier.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'