GEORGE NUUS - Alewijn Dippenaar (63), een van die Suid-Kaap se bekendste gemeenskapsleiers en sakemanne, is nou aan die stuur van sake van die Garden Route-distriksmunisipaliteit se Oudit en Prestasie Ouditkomitee (Opok).
Dippenaar kom in die plek van dr. Adele Potgieter wie se termyn op 30 Maart geëindig het. Potgieter was sedert 1 November 2012 lid van die komitee.
Dippenaar het bewese ervaring op verskeie terreine en is op die oomblik onder meer die voorsitter van die Suid-Kaap Kollege raad. Hy het ook al aan die stuur van suksesvolle geleenthede soos die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) en die George-oumotorskou gestaan.
Die besluit om Dippenaar aan te stel is verlede week tydens 'n raadsvergadering van die distriks-munisipaliteit geneem.
Luidens 'n verklaring van die munisipaliteit het Dippenaar buitengewone belangstelling in oudit, prestasiebestuur en relevante rigtings van wetgewing en opleiding.
In die verlede het hy vir 10 jaar gedien op 'n soortgelyke komitee van die Swartlandse munisipaliteit. Hy het ook op soortgelyke komitees gedien van Mosselbaai, George en Kannaland. Hy was in die verlede 'n lid van die distriksmunisipaliteit se komitee (Opok).
Op die oomblik is hy die voorsitter van die soortgelyke komitee van Prins Albert en hy dien op die komitee van Oudtshoorn.
Dippenaar het Maandag gesê hy sien uit na die nuwe uitdaging. "As 'n inwoner van die Tuinroete moet 'n mens doen, wat gedoen moet word. As 'n mens 'n positiewe bydrae kan lewer tot die funksionering van 'n munisipaliteit moet 'n mens dit doen."
Hy beskou dit as 'n groot uitdaging. Volgens hom help dit om 'n onafhanklike oorsig te gee. 'n Persoon wat so 'n amp beklee is nie 'n amptenaar of 'n politikus nie. "Ons verantwoordelikheid is om vir die raad 'n oorsig te verskaf van onder meer interne en eksterne oudit verslae."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'