Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die “after tears” van ‘n begrafnis vir ‘n jong man wat onlangs in Rosemoor doodgesteek is, het gisteraand nog ‘n jeugdige se lewe beëindig toe ‘n sekuriteitswag blykbaar 'n jong man doodgeskiet het.
Dit het omstreeks 18:50 in O’Connellstraat in Rosemoor plaasgevind.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, Sersant Chris Spies, het vanoggend bevestig dat die polisie 'n man (30) in hegtenis geneem het in verband met die slagoffer se dood. Die verdagte bly in polisie-aanhouding.
“Volgens inligting wat in hierdie stadium beskikbaar is, is 'n lid van die publiek beseer tydens 'n gestoei met 'n veiligheidsbeampte,” het Spies gesê. “Die 20-jarige slagoffer het twee skietwonde opgedoen. Hy is hospitaal toe geneem waar hy later dood is. 'n Groep het op die toneel saamgedrom en 'n voertuig aan die brand gesteek. Hulle het ook 'n winkel in die area geteiken waar 'n winkelier homself toegesluit het."
"Die polisie het die groep met skokgranate en rubberkoeëls uiteengejaag. ’n Saak van openbare geweld is geopen vir verdere polisieondersoek.”
Spies het gesê dat die situasie tans kalm is. “Versterkings is in die gebied ontplooi om die situasie te monitor. Hulle sal in die gebied bly totdat die situasie gestabiliseer is,” het hy gesê.
Op die toneel
George Herald-joernalis Jacques du Toit was op die toneel tydens die voorval. Die chaos soos te siene in ‘n video wat deur Du Toit geneem is, gee ‘n juiste weergawe van die aand se stemming.
Du Toit se tydlyn van gebeure word hieronder vervat. Die naam van die oorledene is nog nie bekend aan George Herald nie, en die ouderdom wat aan die joernalis gegee is, verskil van die polisie se terugvoer. Duidelikheid hieroor sal later gegee word soos meer inligting bekend raak.
Volgens ooggetuies op die toneel wat met Du Toit gesels het, het mense in die winkelsentrum skuiling gesoek toe dit begin reën het. Sekuriteit is geskakel om die skare wat in die winkel bymekaar gekom het te beheer. In die proses het die sekuriteitswag blykbaar skote afgevuur. Hy het glo ‘n seun getref, waarna hy homself in die winkel toegesluit het.
Buite die winkel het ‘n groep mense ‘n voertuig, wat blykbaar aan die sekuriteitsmaatskapy behoort, om gekantel. Die voertuig se brandstof tenk is oopgemaak sodat die vloeistof kan uitloop en dit is aan die brand gesteek vertel 'n ooggetuie wat op voorwaarde van anonimiteit met George Herald gepraat het.
Die kar het vir lank gebrand terwyl die wielbande een vir een ontplof.
Intussen het ‘n groep van ongeveer 20 mense die winkel se deur met harde slae probeer oop breek. Skynbaar om by die sekuriteitswag uit te kom, nie vir die inhoud van die winkel nie.
‘n Enkele polisievangwa wat by die toneel aangekom het, het onmiddelik weggejaag om ekstra hulp te kry. Kort daarna het die polisie se eenheid vir openbare orde opgedaag en die skare uiteen gedryf. Talle skokgranate is in die lug afgevuur en in sommige plekke is traangas geskiet.
Die brandweer en ‘n ambulans het saam met die res van die polisie opgedaag. Die krete van geskokte bystanders kon oomblike daarna gehoor word toe die paramedici glo die jong seun op die toneel dood verklaar.
VIDEO: Jacques du Toit
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’