Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die drie gestremde vriende, Pieter Koekemoer (58), Carl de Campos (44) en Sean Snyman (57), wat Dinsdag op Afrikadag, 25 Mei, aan 'n aflosgeleentheid tussen Mosselbaai en George deelgeneem het, beplan om dit 'n jaarlikse geleentheid te maak.
Dit staan bekend as The Three Amigos Mossel Bay to George Relay en dit het vanjaar die eerste keer plaasgevind.
Die aflos van 55 km, wat bestaan het uit fietsry, hardloop en loop het op die agterpaaie van Mosselbaai na George plaasgevind.
Koekemoer het die eerste skof hanteer. Kort na 07:00 het hy uit Mosselbaai op 'n fiets weggespring en sowat 25 km later het De Campos by hom oorgeneem. Hy is blind en maak gewoonlik van 'n begeleier gebruik as hy hardloop. Ongelukkig het die begeleier nie opgedaag nie wat groot uitdagings aan hom gestel het. Hy moes toe agter 'n voertuig hardloop wat baie stadig gery het.
Die idee was dat hy 15 km sou hardloop. Snyman het egter ingespring en hom vir 'n klein entjie gehelp en bygestaan. Snyman het saam met sy hond, Flame, geloop en het uiteindelik sowat 17 km voltooi.
Die drietal het kort voor 12:30 by Eenheidspark in George opgedaag. Hulle het almal die laaste entjie na Eenheidspark gestap waar vriende en ondersteuners hulle ingewag het.Pieter Koekemoer, Sean Snyman en Carl de Campos rus na hul aankoms in George.
Die doel was onder meer om geld in te samel vir twee strandrolstoele of iets wat dit vir mense in rolstoele moontlik sal maak om in die see te gaan en om die situasie van gestremdes onder mense se aandag te bring.
Koekemoer het gesê toe hy in Mosselbaai weggespring het, was dit nog donker. Gelukkig het die meeste verkeer uit die teenoorgestelde rigting gekom. Die bulte by Klein-Brakrivier en Groot-Brakrivier was wel 'n bietjie van 'n uitdaging. Op die afdraandes het dit beter gegaan en in 'n stadium het hy meer as 70 km per uur op die fiets gehaal.
De Campos het gesê die moeilikste was om agter die dieselvoertuig te hardloop. In 'n stadium teen 'n bult het hy begin duiselig voel weens die dieseldampe. Daar het hy die meeste tyd verloor.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens hom was dit moeilik om so agter 'n voertuig te hardloop. Dit was moeilik om sy ritme te kry omdat die motor soms vinniger en dan weer stadiger gery het. Gewoonlik maak hy ook staat op die klank wat hy hoor op die pad. Die pad was egter raserig en besig.
Snyman het gesê die hele wedloop was moeilik. Nieteenstaande was dit 'n aangename uitdaging. Volgens hom is so-iets nog nooit voorheen deur drie gestremdes gedoen nie.
As hulle dit kon doen, kan ander dit ook doen.
Die plan is om dit weer aanstaande jaar aan te bied, maar 'n datum moet nog vasgemaak word.
Die presiese bedrag wat hulle ingesamel het, is nog nie bekend nie, maar teen vroeg Dinsdagmiddag was daar al meer as R17 000 in die sakkie. Mense kan nog geld skenk.
Flame, Sean Snyman se hond drink water by Eenheidspark. Foto: Eugene Gunning
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'