GEORGE NUUS - Met hartseer, maar ook diepe dankbaarheid, neem die Niehaus-familie afskeid van hul steunpilaar - hulle ma, ouma, familielid en vriendin, Cornelia Zerkia (Corrie) Niehaus. Sy is op Dinsdag 4 Maart, twee dae na haar 81ste verjaarsdag, oorlede.
Corrie was 'n boorling van die Paarl en die jongste van ses kinders. Sy het haar lewe lank 'n sagte, liefdevolle hart vir haar familie en gemeenskap gehad.
Nadat haar man in 2016 oorlede is, het sy volgens belofte by haar oudste seun gaan woon, waar sy met warmte en liefde omring is. Haar drie seuns was haar trots en vreugde, en haar teenwoordigheid het hulle lewens op 'n onbeskryflike manier verryk.
Sy was 'n aktiewe lid van Young Ones (60+) by die Kruiskerk, waar sy samesyn en geloof met haar mede-lidmate gedeel het. Selfs op haar laaste Sondag hier op aarde, het sy nog saam met hulle in haar huis gebid en gekuier - 'n laaste oomblik van vrede en vreugde.
Dit was vir haar belangrik om 'n laaste keer kerk toe te gaan, en sy het dit met liefde gedoen, omring deur mense wat vir haar omgegee het. Na die diens is daar nog heerlik saam koek en tee geniet, 'n laaste teken van haar innige gemeenskap met ander.
Corrie het geweet haar tyd was naby.
Haar geloof was sterk, haar hart was gereed. Sy het 'n lewe van diens, liefde en nederigheid geleef en haar nalatenskap is een van deernis en geloof.
"Ons sê totsiens met swaar harte, maar ook met vrede, want ons weet sy is nou tuis. Rus sag, moeder. Jou liefde en herinneringe leef voort in ons harte," sê haar oudste seun Gert.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’