GEORGE NUUS - Een van George se geliefde en bekendste inwoners ds. Chris April, het vandeesweek gegroet om in Kaapstad te gaan woon.
Die 83-jarige April het in 1970 in George aangekom en was net vir tussenposes weg toe hy by die politiek betrokke geraak het. Hy was voorheen 'n leraar van die destydse
NG Sendingkerk wat later die VGK geword het April het diep spore in George getrap. In die verlede was hy onder meer 'n lid van die Arbeidersparty en ook 'n minister in die destydse Raad van Verteenwoordigers in die driekamerparlement.
Hy was ook een van die parlementslede wat in Januarie 1987 in Port Elizabeth in die see gaan swem het as deel van 'n protesaksie teen apartheid.
Sedert 1 Mei 2019 was hy 'n inwoner van Huis JJ Watson. Hy gaan nou in Kaapstad in 'n tehuis vir bejaardes woon wat baie naby aan van sy familie is.
Suster Maria Sauer (Wolhuter) werknemer van Huis JJ Watson saam met ds. Chris April. Hy het haar gedoop, gekatkiseer, en in die huwelik bevestig..
April het Maandag aan George Herald gesê hy is baie lief vir George en hy gaan die plek mis.
Dr. Okkie Stander, bestuurder van Huis JJ Watson, het gesê April se verhuising laat 'n groot leemte. Hy het ander inwoners met groot deernis en empatie behandel.
Tot onlangs nog het hy die leiding geneem met die samesang Donderdagoggende. Dit was vir hom een van die hoogtepunte van elke week.
Stander het April beskryf as professioneel, vriendelik en iemand wat net altyd mense wou help.
Henry Muller, 'n vriend van April, het gesê hy is by uitstek 'n gemeenskapmens. Hy het hard gewerk en was 'n aanwins vir George.
Bernadette (Bernie) Scholtz het gesê April is vriendelik en gaaf. Hy was 'n familievriend van haar ma, Babs van Rooyen, gewees. Volgens haar het hy baie vir die gemeenskap gedoen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'