Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Dit was nie net 'n gewone kuier toe die nege maande oue tweeling Janru en Hendré Schreuder van Douglas in die Noord-Kaap verlede week die eerste keer saam met hul pa, Johandré Schreuder, George besoek het om 'n draai by hul ouma, Hermien Schreuder te maak nie.
Nie net was dit hul eerste besoek aan George nie, maar dit was ook die eerste keer dat hulle die see gesien het.
Die tweeling het die afgelope paar maande diep in die harte van mense regoor Suid-Afrika ingekruip. Hul ma, Esmariè is net 'n paar dae na hul geboorte in 'n Bloemfonteinse hospitaal oorlede. Die tweeling is op 28 Julie gebore en Esmariè het twee dae na die tweeling gebore is 'n beroerte gehad. Sy is op 2 Augustus aan bloeding op die brein dood.
Johandré het Maandag 3 Mei 'n paar uur voordat hy en die tweeling terug na Douglas vertrek het met George Herald gepraat. Hy werk as 'n IT-spesialis by die landboumaatskappy GWK in Douglas. Eenkant het die tweeling met ouma Hermien en hul tannie Alizia gespeel.
Hulle sou later vir oulaas weer 'n draai by die see maak.
Kyk 'n video hieronder:
Johandré het vertel dat die tweeling beslis besef het dis iets anders toe hulle die see die eerste keer 'n paar dae na hul aankoms gesien het. Hulle kon ook die eerste keer seesand onder hul voetjies voel.
Hy het vertel van die uitdagende tye die afgelope paar maande, maar gesê dit gaan beslis beter. Hy het 'n au pair wat hom met die tweeling help terwyl hy bedags werk. Die tweeling is nou ook in 'n roetine.
Dis lekker by die see. Johandré sit met die tweeling op die strand.
Tot voor Julie/Augustus 2020 was hy en Esmariè 'n gewone paartjie. Hulle het mekaar in 2015 in Kimberley ontmoet en daarna het die liefde geblom.
Hulle is in 2017 getroud en het eers die wêreld platgereis voordat hulle met 'n gesin begin het.
Hulle was baie opgewonde oor die volgende hoofstuk in hul lewens.
Die Schreuder-tweeling kuier in George. Janru (links) en Hendrè (regs). By hulle is ouma Hermien, tannie Alizia (agter) en hul pa, Johandré Schreuder.
Volgens Johandré is dit nie maklik nie. Hy het egter benadruk dat dit sy geloof in die Here is wat hom staande hou. By al die hartseer is daar ook positiewe. Hy het gesien hoe mense omgee en hulle het byvoorbeeld letterlik sakke vol klere vir die tweeling ontvang.
Sy vriende het ook 'n Facebook-blad, "Janru en Hendré: 'n Storie van Genade", begin en mense kan die tweeling se vordering volg. Dit het ook intussen uitgebrei. Die Here het op sy hart gedruk om ander pa's in soortgelyke situasies te help.
Johandré Schreuder saam met sy twee seuntjies, Janru en Hendrè.
Foto's: Eugene Gunning
Hermien, 'n onderwyser by 'n plaaslike skool, het gesê die familie is baie bly dat hulle kom kuier het. Die gebeure was 'n groot aanpassing. Haar skoondogter was soos 'n eie dogter vir haar.
As gelowige mens was daar aanvanklik vrae by haar, maar sy het nou berusting. Dit gaan nou goed met die tweeling. "Hulle is gesond."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'