So al langs die riemtelegram het ek verneem van George se "wit plakkerskamp", oftewel die "hoenderhokke", en het met ‘n spesifieke beeld in gedagte van die grondpad afgedraai.
Landelike rustigheid, sagte glimlagte en vrede het die groepie mense begroet wat in El Shaddai se kerksaal byeengekom het vir ‘n bekendstelling van die spesiale projek. Die raadslid vir maatskaplike dienste, Mercia Draghoender, sowel as Belrina Cornelius, Philip de Vries van LIFE Comunity Services, ‘n paar besigheidsmense en inwoners van El Shaddai het die geleentheid gekry om mekaar te ontmoet.
As ‘n artikel 21-maatskappy met hul fondasie in die Christelike geloof, ontvang El Shaddai redelike steun op plaaslike front en vanuit die buiteland. Die SAUK het onlangs ‘n opname van hul projek gemaak.
"Ons is hier om mense te genees, om hul gees te herstel," vertel Steve Munnik, die voorsitter van die beheerraad. Hy verduidelik dat El Shaddai se fokus op die familie rus, aangesien hulle sterk daarin glo dat die individu slegs heel kan word indien die familie heling ontvang.
"Dit beteken egter nie ons sal enigeen wegwys net omdat hulle enkellopend is nie," sê Munnik, wat beklemtoon dat El Shaddai oor die kleurgrense heen mense probeer help met ‘n tweede kans op die lewe.
Die grond waarop El Shaddai begin is, behoort aan die Turk David Bitirimoglu wat die eiendom spesiaal vir dié doel aangeskaf het. David self het al die donker kant van die lewe ervaar en wil juis daarom ander wat in ‘n slegte posisie is help om weer bo uit te kom.
El Shaddai gee mense ‘n tydperk van twee jaar om weer ‘n vaste werk en blyplek te kry. Intussen ontvang inwoners behuising, maaltye en klere, waarvoor hulle ‘n klein fooitjie betaal indien hulle kan. Verder is niemand by El Shaddai ledig nie - al werk jy in die groentetuin of saagmeule op die perseel - iets moet jy doen. Selfs die ouer kinders help met skoffel in die tuin.
Die hele opset lyk eerder soos ‘n oorwegend wit kommune as ‘n plakkerskamp, waar mense in klein, eenvoudige plekkies bly. Party loop soos skakelhuisies in mekaar, maar daar is struktuur... en trots.
Ons toergids is Frank Gie (37), wat sedert 4 Julie vanjaar by El Shaddai tuisgaan. Hy is ‘n selferkende eks-heroïenverslaafde wat handomkeer verander het nadat hy bykans sy lewe verloor het. Na sy rehabilitasie tydperk by Noupoort gee El Shaddai dié man ‘n kans om sy lewe terug te kry - ofskoon in ‘n nuwe rigting.
Terwyl ons gesels, speel jong kinders in die gras langs die trekker. ‘n Paar ouer kinders speel krieket langs ‘n huis.
Raadslid Draghoender het tydens die vergadering by El Shaddai bevestig dat die Hansmoeskraal-area deur die George-stadsraad geoormerk is as die volgende plek vir ontwikkeling.
Vir meer inligting oor El Shaddai, kontak gerus vir Steve Munnik by 082 411 9988 of pastoor Richard Mason by 082 897 7054.
.jpg)
Frank se leuse vir die lewe.
ARTIKEL EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR
Nog foto's hier: http://www.georgeherald.com/gallery.aspx?gpid=235&gid=1