Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Bitter min mense sien uit na ‘n operasie, maar Melvin Maxim (42) van George kan nie wag dat medici môre, Donderdag 30 November, die massiewe sampioenagtige groeisels op sy gesig en nek verwyder nie.
Die harde, onooglike groeisels, genaamd keloïede, vorm wanneer littekenweefsel buite beheer begin groei en word baie groter as die oorspronklike wond. Keloiede is ongeneeslik en al deel van Melvin se lewe sedert sy tienerjare.
Maar nou word Melvin gehelp. Dr Ansua Steyn-Ahlstrom van Victoriabaai het onmiddelik ingespring om te help toe sy van Melvin se toestand verneem en deur middel van haar Dr. Ansua Stigting gereël dat die groeisels op sy nek en kop gratis verwyder word.
Dr Ansua, van Via se Dr Etter faam, het ook die noodsaaklike bestraling in Hermanus gereël wat Melvin kort na die verwydering van die keloïede moet ondergaan anders groei dit vinnig weer terug.
Hy het ook keloïede op sy arms, rug en bors, maar die operasie fokus op die sigbare groeisels op sy nek en gesig aangesien hy die ander onder ‘n hemp kan verberg.
Hy sê hoewel hy met sy vreemde voorkoms kan saamleef, pla dit vreemdelinge wat in die openbaar nie hulle oë van hom kan afhou nie.
Melvin Maxim van George het keloïede op sy arms, bors, rug, nek en kop.
Keloïed-bewusmaking
Melvin, wat sedert George Herald in September oor sy toestand berig het ook met Huisgenoot openhartig oor die “berg wat hy klim” gepraat het, het vandag (Woensdag 29 November) aan George Herald gesê hy is niks bang vir die operasie nie. “Ek werk dan nog vandag. Ek sit ‘n dakkie op.”
Dié man gaan sit nie op ‘n hopie omdat hy anders lyk nie. “Die feit dat jy anders lyk beteken nie jy moet agter jou knieknoppe gaan sit nie. Ek het baie pyn vandag, want die keloïed op my bors is geswel, maar ek het pynpille wat help. Die oorsaak van my pyn kan jy sien, maar wat van byvoorbeeld ‘n diabeet? Hulle het dikwels erge ongemak, maar jy sien dit nie. Soos ek in Huisgenoot gesê het: Elke ou moet sy eie berg klim. Jy moet ‘n doel en mikpunt in die lewe hê.”
Oor wat hom so positief en blymoedig laat leef antwoord hy sonder om te aarsel: “My kinders. My kinders maak my sterk en is my dryfkrag. Ek moet positief wees sodat hulle positief kan wees. Hulle en my vrou is my alles.”
Sy “alles” is sy vrou, Nadine Magerman, sy seun Meldino Maxim (20), 18-jarige tweelingdogters Denisha en Danelle Maxim, dogter Rendoline Magerman (12) en sy “babatjie”, die jongste dogter Mel-vonique Maxim (6).
VIDEO: Ilse Schoonraad het by Melvin Maxim en sy vrou Nadine se huis in Parkdene, George gaan kuier op die vooraand van sy keloïede-operasie in Knysna op Donderdag 30 November.
Samaritane
Die dokters met die groot harte wat gratis hulle dienste gee is plastiese chirurge dr. Stephen Wilson en dr. Marshall Murdoch met dr. Ansua wat hulle assisteer. Die narkotiseer is Dr Catharine Knights en die operasie word by die Advanced Health Surgical Centre in Knysna uitgevoer wat hulle teater gratis beskikbaar stel.
Hierdie is die derde persoon van George wat gratis deur die Dr Ansua Stigting gehelp word. In September is Lelitha Jantjies (9) van Pacaltsdorp se littekens met chirurgie versag na die gesin se pittbull terrier haar gesig verskeur het. Daarna is die oortollige vel van ‘n vrou van George se bo-arms verwyder na sy ‘n massiewe 80kg verloor het.
En nou is dit Melvin Maxim se beurt. Third time lucky!
Verwante artikels:
- Transforming lives one operation at a time
- Lelitha se nuwe gesig 'n geskenk
- Wow oomblik toe Lelitha haarself weer sien
- Lelitha en haar boetie terug by die skool
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’