GEORGE NUUS - Op ‘n nat, reënerige oggend het die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste by die nuwe restaurant in die Dias Hotel-restaurant, Chef Emporium, saam met sjef Lizelle Stolze van Serendipity te midde van heerlike Midde-Oosterse geure gekuier.
Stolze is een van die land se topsjefs wat al by verskeie geleenthede vereer is vir haar besondere kostalent. Haar voorliefde vir Midde-Oosterse kosse lê in die warm geure wat rondom ‘n gesellige kuiertafel geniet word.
Die fynproewers het presies dit ervaar met die eerste gereg: Sabzi Khordan, ‘n kruieskinkbord bedien met platbrood en Mirza Ghasemi-eiervrug, ‘n eiervrugdoopgereg, waar elke gas hul happie na smaak kon bou.
Die hoofmaal het bestaan uit drie geregte wat saam bedien is: eerstens Shirazi-slaai, ‘n tradisionele Iranse slaai. Die tweede gereg, getrekte lam met jogurt en granaat, was nie net besonder smaaklik nie, maar ook ‘n mooi gereg met afronding van jogurt, granaat en amandelvlokkie.
Die derde gereg, Tachin-saffraanrys, het almal verras. Hierdie ryskoek met saffraan en rooibosbessies (cranberries) was voorwaar 'n smaaksensasie. ‘n Groot gunsteling onder die gaste was die nagereg, Persiese liefdeskoek, gemaak van amandels en pistasieneute, bedien met rooswaterroom.
Die geregte is gekomplementeer met keurwyne uit die kelders van Journey’s End, Stellenbosch. Haystack Chardonnay, The Huntsman en Shiraz is aan die gaste voorgehou.
Die Suid-Kaap Fynproewersgilde hou gereelde kosdemonstrasies saam met van die beste sjefs in hierdie omgewing.
Die volgende demonstrasie sal op 3 Junie plaasvind. Vir meer inligting of om aan te sluit, kontak vir Santie van Vuuren by 082 461 0777 of Ena Jacobs by 082 416 5304.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'