Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die musiekoorlog tussen 'n 'boombox' en 'n konsertina het die afgelope week opslae gemaak in 'n andersins rustige woonbuurt in George.
'n Gedeelte van Arbourweg en Ploverweg in Heatherlands het Vrydag 9 Maart weergalm met treffers soos Michael Bolton se How can we be lovers wat vir sowat ses ure uit 'n leë huis in 'n nuwe kompleks basuin het.
Die luidspreker is van 16:00 die middag tot na 22:00 die aand, op sy boks waarin dit verkoop is, bo-op 'n tafel staangemaak en het aanhoudend deur oop vensters in die rigting van die aangrensende huise geblêr tot argwaan van die nuwe kompleks se bure.
Inwoners in die gebied, wat na werk met hulle honde en kinders vir 'n rustige wandeling gegaan het, het verstom rondgestaan en met die ontstoke bure oor die geraasbesoedeling gepraat.
Die polisie se hulp is ingeroep, maar omdat die vier huise in die kompleks in die mark is, maar steeds leeg staan, was daar niemand wat die polisie kon vra om die musiek te doof nie.
Konsertinakonsternasie
Die mobiele partytjieboks is daar gesit deur Paul Kruger, een van die vennote in die ontwikkeling wat deur bestaande huise omring word, ter vergelding van konsertinaklanke wat Sondagmiddae glo voornemende kopers by die skouhuis die hasepad laat vat.
Die konsertinaspeler is Brian Ferreira van die Donkiekar-boereorkes wat reg langs die nuwe kompleks woon en gereeld op sy stoep nuwe melodieë oefen. Kruger het Ferreira gevra om nie op Sondae tussen 14:00 en 17:00 sy konsertina te speel nie omdat dit glo kopers afskrik. Ferreira het ingestem, maar toe weer binne in sy huis met die stoepdeur toegemaak, begin oefen. Dit was egter steeds nie goed genoeg nie en so het dit gekom dat Kruger die volume regoor Ferreira se huis Vrydag behoorlik oopgedraai het.
Ferreira byt nie daaraan dat hy mense afskrik nie. "Die plekke is duur en omdat dit so na aan ons stoepe en leefareas gebou is, besef die mense mos dat hulle alle klanke van ons kant sal hoor. Nie net op Sondae nie. Ek oefen nog al die jare op Saterdae, Sondae en in die aand my konsertina en nog nooit het enige van die bure gekla nie. As ek instem om nie te oefen as daar 'n skouhuis is nie, dan is dit mos 'n wanvoorstelling van die realiteit aan voornemende kopers!"
Aspris vs onredelike eis
Kruger sê egter Ferreira is sommer aspris. "As hy aanhou om sy konsertina op Sondagmiddae te speel wanneer almal rustig is en ook 'n bietjie wil slaap, is dit bloot selfsugtig. Sy konsertina weergalm in die huis. Die agente het my meegedeel dat dit 'n steurnis is. Hy kan die harde pad of die sagte pad kies. As hy aanhou om sy konsertina op Sondae te speel, dan sal ek aanhou om harde musiek in die skouhuis te speel."
Buurvrou, Olga Schoeman, wat musieklesse by haar huis gee, het bevestig dat Ferreira se konsertina haar en haar man, Ben, nog nooit gepla het nie. "Ons woon al baie lank hier en die ontwikkelaars wil hê ons moet nou na al die jare ons lewenstyl aanpas. Beteken dit dat ek nie meer saans mag klavier- of kitaarlesse gee nie? Dit het nog nooit iemand gepla nie. Mense braai en kuier ook mos dikwels op 'n Sondagmiddag en speel dan CD's. Niemand maak opsetlik 'n geraas nie, maar jy sal mos af en toe jou bure hoor."
Privaatheid
Maar dit lyk tog asof die musiekoorlog 'n effe langer aanloop het en die onderskeie rolspelers op die verkeerde noot weggespring het. Verskeie bure, insluitend die Ferreiras en die Schoemans het voor die kompleks gebou is, met die ontwikkelaars vergader en gevra dat hulle die eenhede verder van die bestaande omringende eiendomme bou, maar kon nie tot 'n vergelyk kom nie. Die inwoners voel die ontwikkeling maak inbreuk op hulle privaatheid en dat hulle nie nou meer hulle eie stoepe en buiteareas kan geniet nie. Dit lyk asof Bolten se lied 'n paar raakpunte het:
We lie awake, this wall between us...
Still trying to work it out, never get it right...
How can we start over when the fighting never ends?
Watch the video below.
Die skouhuis (regs) waar die 'boombox' kliphard in die venster gespeel is. Die foto is van Brian Ferreira se stoep geneem. George Herald het opnames van die konsertinaspelery by die skeidsmuur geneem.
Die luidspreker staan bo-op sy winkelboks op 'n tafel en blêr deur die ruit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'