GEORGE NUUS - 'n Belastingbetaler is vies oor die George-munisipaliteit weier om vir hom huurgeld te betaal nadat hulle sy erf glo vir 'n paar maande "beset" en as werkterrein gebruik het.
In stede van 'n betaling van die owerheid af, het hy 'n rekening gekry vir die skoonmaak van die erf, vertel 'n onthutste Wimpie Barnard van Pretoria. Hy besit 'n aantal eiendomme in George. Die betrokke erf, in Merrimanstraat, was in die mark en hy het dit in middel verlede jaar verkoop.
Dit was in die eerste helfte van 2018 (en moontlik selfs voor dit) dat die munisipaliteit glo sy erf beset het. Dit het die verkoop volgens hom bemoeilik. Uit e-poskorrespondensie van die munisipaliteit met Barnard blyk dit dat die waterkonstruksiespan die erf gebruik het.
"Daar was verskeie hope grond en rommel, swaarvoertuie is daar geparkeer, slote gegrawe en 'n toilet opgerig. Die erf het gevolglik baie onnet voorgekom. In dié tyd het ek 'n brief gekry van die munisipaliteit dat ek die erf moet skoonmaak omdat dit onnet is, anders sal hulle dit self doen en die rekening vir my stuur," sê Barnard.
Hy het hulle in kennis gestel dat dit onmoontlik is om die erf netjies te kry terwyl hulle dit beset. Verskeie pogings om iemand by die munisipaliteit te kry om sy situasie in te sien, het misluk.
"Niemand het belanggestel in my probleem nie. Toe die erf verkoop is, het die munisipaliteit bloot die skoonmaakrekening van R1 513.92 by die uitklaringsyfer wat aan die oordragprokureur verskaf is gevoeg."
Barnard se pleidooi dat hulle die skoonmaakkoste terugskryf, was vergeefs. Hy het as alternatief vir hulle 'n rekening gestuur vir die betaling van huurgeld vir die gebruik van sy erf teen R1 000 per maand vir die periode wat hulle dit beset het. "Hulle het bloot laat weet dat hulle nie die huur gaan betaal nie. Ek het ook ander eiendom in George en het nog altyd al my rekeninge getrou betaal, maar hulle stel blykbaar nie belang in my billike versoek om die kostes terug te skryf nie. Ek het ook tot vandag toe nie my deposito en krediet wat by hulle lê, teruggekry nie."
Die munisipale bestuurder, Trevor Botha, se kommentaar teenoor George Herald was dat omstandighede rondom die klagte ondersoek en op meriete beoordeel sal word. "Die uitkoms sal direk aan die klaer gekommunikeer word," sê hy.
Teen druktyd het Barnard nog niks van die munisipaliteit gehoor nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'