GEORGE NUUS - 'n Munisipale taakspan is saamgestel om dringende kwessies binne die afdeling vir vlootdienste te hersien en daaraan aandag te gee.
Dit volg nadat beweerde ongeruimdhede tydens die laaste raadsvergadering op 25 Maart aan die lig gekom het.
Tientalle munisipale voertuie staan vir maande onklaar by 'n plaaslike diensverskaffer, Tata Garden Route, wat glo vergeefs wag op rekwisisies van die amptenary, terwyl die vlootbestuurdienste se maandelikse verslag vir Februarie aandui dat meer as R1 miljoen spandeer is vir die huur van 69 voertuie en swaar masjinerie vir munisipale dienste.
Die handelaarshoof vir Tata Garden Route, André Duvenage, het gesê dit is vir hulle 'n moeilike situasie. "Ons trek finansieel swaar om deur hierdie ding te kom, maar ek wil nie verder kommentaar lewer nie," het hy gesê.
Volgens Virgill Gericke van die PBI staan meer as 40 munisipale voertuie vir maande reeds onklaar by Tata Garden Route.
"Daar is ook sprake dat, terwyl een voertuig geparkeer was vir herstelwerk, oor die R40 000 se brandstof ingegooi is. Dis diefstal," het Gericke gesê.
"Ons vra dat die direkteur van beskermingsdienste, en almal wat hierby betrokke is geskors moet word, hangende die ondersoek. In 'n stad waar daar baie behoefte is, is dit onverstaanbaar dat die munisipaliteit soveel geld spandeer op gehuurde voertuie. Die DA en sy koalisievennote moet ten volle verantwoordelikheid aanvaar."
Munisipaliteit antwoord
Navrae aan George-munisipaliteit oor 'n moontlike ondersoek teen die direkteur Steven Erasmus, en die departement gemeenskapsveiligheid (waaronder verkeer en die munisipale vloot ressorteer); die R40 000 se brandstofkwessie en beweerde departementele skuiwe wat funksies van gemeenskapsveiligheid oordra na ander departemente, is as volg deur die munisipaliteit geantwoord:
"'n Munisipale taakspan is saamgestel om kwessies binne die afdeling vir vlootdienste te hersien en aan te spreek. Waarnemende munisipale bestuurder, dr. Michele Gratz, het bevestig dat die makrostruktuur vir die organisasie hersien word as deel van die deurlopende omkeerstrategie om dienslewering vaartbelyn te maak en George die voorste sekondêre stad te maak.
"Die raad sal oor enige voorgestelde wysigings moet beraadslaag en totdat dit plaasvind is die waarnemende munisipale bestuurder nie vry om enige besonderhede bekend te maak nie."
Voete sleep
Volgens Gericke het hy vasgestel dat die voertuie wat by die diensverskaffer staan herstel moet word, maar blykbaar sleep amptenare voete om bevele vir die herstelwerk uit te reik.
"Daar is baie voertuie. Ek het opgehou tel by veertig voertuie wat by die diensverskaffer geparkeer is. Daar is aan van hierdie voertuie gewerk, maar weens die feit dat hulle nie rekwisisies van die amptenary ontvang het nie, is die herstelwerk laat vaar en die voertuie het begin roes en agteruitgaan.
"Sommige onderdele of enjins is oopgemaak en lê al vir baie maande rond. Van die vragmotors wat vullis optel, is steeds daar geparkeer met die vullis daarin. Bo en behalwe vragmotors, motors en bakkies is daar ook hidroliese masjiene, brandweerwaens en verkeersmotors. Al hierdie voertuie is broodnodig vir die lewering van dienste aan die gemeenskap van George."
Dozens of municipal vehicles due for repairs have been parked for months at a local service provider, Tata Garden Route, while the business awaits the necessary requisitions from officials.
The fleet management services' monthly report for February indicates that more than R1-million has been spent on renting 69 vehicles and heavy machinery for municipal services. Acting Municipal Manager Dr Michele Gratz confirmed that a municipal task team has been formed to review and address issues within the fleet services division. Enquiries about the matter, including an alleged amount of R40 000 in fuel allocated to a stationary vehicle, was answered as follows:
"Acting Municipal Manager Dr Michele Gratz confirmed that the macrostructure for the organisation is being reviewed as a part of the ongoing turnaround strategy to streamline service delivery and make George the leading secondary city. Council will need to deliberate on any suggested amendments and until that takes place the Acting MM is not at liberty to disclose any details."
'We bring you the latest George, Garden Route news'