GEORGE NUUS - ‘n Reusekragopwekker is net voor etenstyd vandag, Donderdag 8 Februarie, in die parkeergebied van die Multisentrum in die middedorp afgelewer om tydelik krag te voorsien aan huurders wat vir die vierde dag sonder munisipale toevoer is.
Die substasie wat die sentrum van krag voorsien het Maandag onklaar geraak en dit is onseker hoe lank die onderbreking gaan duur.
Die Coffee Bean-koffiewinkel het sy deure vir die res van die week gesluit.
Porto Bello-restaurant het 'n nota op hul deur wat sê dat hulle vir middagete gesluit is, maar wel oop is vir aandete.
George-munisipaliteit se hoof van kommunikasie, Chantèl Edwards het by navraag gesê die substasie is onherstelbaar en moet uitgelig en met ’n nuwe een vervang word. Dit kan weens toegangsprobleme nie gedoen word nie.
“Verskeie opsies word met die eienaar van die sentrum bespreek en die herstel van toevoer word tans beplan op ’n manier wat soortgelyke toegangsprobleme in die toekoms sal uitskakel.”
Die substasie staan in ’n binnehof van die Multisentrum.
Die substasie.
’n Huurder wat anoniem wou bly, sê hulle kan klante bedien want hulle het ’n kragopwekker, maar net rekenaars en ligte kan aan wees.
“Die koste om die kragopwekker aan die gang te hou is geweldig. Die petrol moet elke vier ure aangevul word.
"Ons het ook ’n omskakelaar, maar dié raak pap en dit affekteer die lewensduur daarvan negatief. Ons moet dit nou ook laai deur middel van ons kragopwekker.”
’n Ander winkeleienaar sê ook hulle dieselkostes het die hoogte in geskiet omdat die kragopwekker elke dag heeldag aan is.
“Maar ons moet aangaan, wat ons moet huur betaal. Ons gebruik gas vir kook, maar kan nie koffie maak nie omdat die koffiemasjien nie van die kragopwekker af werk nie. Ons verloor klandisie as gevolg daarvan.
“Om vrieskaste aan die gang te hou, is ook ‘n nagmerrie. Maar ons weet die sentrumbestuur en munisipaliteit doen wat hulle kan en ons het waardering daarvoor.”
Die sentrumeienaar, wat die kragopwekker bekom het, het by navraag gesê hulle sal op 'n latere stadium kommentaar lewer.
Coffee Bean het vir die week gesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’