GEORGE NUUS - Die gebrul van motorfietsenjins in Yorkstraat en Courtenayweg verlede Saterdagoggend was 'n laaste eerbetoon aan die voormalige voorsitter en een van die stigterslede van die Locals-motorfietsklub in George, Werner Kapp (59).
Motorfietsryers van verskeie klubs in die Suid-Kaap het aan die ererit deelgeneem. Kappie, soos Werner Kapp alombekend gestaan het, het op Woensdag 19 Julie vermoedelik aan 'n hartaanval beswyk.
Die ererit het aan die onderpunt van Yorkstraat begin en af beweeg in Knysnaweg, tot by die Biker's Church in Derdestraat, George-Oos, waar sy verassingsdiens plaasgevind het. Die Locals-motorfietsklub, is in 1994 deur Kappie, Rynie Munnik en Gerhard Pretorius in George gestig.
Volgens sy suster, Veronica Snyman, het haar broer drie jaar gelede Covid gehad.
"Die Here het hom deurgedra.
"Sy longe en hart het skade gely," het sy gesê. Kappie se vrou, Gail Kapp, het hom die oggend in die sitkamer gevind. "Kappie was die wonderlikste mens met 'n hart van goud. Hy het soveel vir ander mense omgegee. Almal wat kos nodig gehad het, het na sy huis in Bos-en-Dal gegaan."
Die ererit het aan die onderpunt van Yorkstraat begin, om die sirkel aan die bopunt van Yorkstraat, en af in Knysnaweg.
Dwarsdeur sy lewe het Kappie een groot liefde gehad, en dit was motorfietsry.
"Selfs deur sy siekte het hy steeds die wêreld vol op sy motorfiets gery. Dit was absoluut sy passie," het Veronica gesê. Kappie was vir jare lank 'n tronkbewaarder by die department van korrektiewe dienste in George en Johannesburg, en het vir die laaste aantal jare as nutsman hier en daar hulp verleen.
Hy het die laaste drie jaar omgesien na sy vrou, Gail, wat drie jaar gelede na 'n beroerte verlam gelaat is.
Kappie was die tweede jongste van 12 kinders. Hy word oorleef deur agt broers en susters, Monty Kapp, André Kapp, Lynette Nicholas, Tilla Snyman, Veronica Snyman, Frans Kapp, Gerrie Kapp en die jongste broer Hein Kapp. Kappie word ook oorleef deur sy vrou, Gail en Michael de Koning en sy gesin.
Motorfietsryers van verskeie klubs in die Suid-Kaap het aan die ererit deelgeneem. Foto's: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’