GEORGE NUUS - 'n Beweerde motorfietsdief het sy moses teëgekom ná hy homself in 'n reaksielid van Street Eyes on Call op Vrydag 29 Januarie vasgeloop het.
"Ek het my laaste patrollie gedoen voor ons skofruiling toe ek omstreeks 05:30 'n verdagte motorfiets opmerk. Toe ek nader beweeg sien ek die motorfietsryer het nie 'n valhelm op nie en hy het baie senuagtig voorgekom," vertel Frans Viljoen.
Volgens Viljoen het hy ook opgemerk dat die skakelaar se drade gesny was.
"Die persoon het weggejaag en oor 'n rooi verkeerslig in Eerstestraat voor aankomende verkeer ingejaag. Ek het hom in my reaksievoertuig agternagesit," sê Viljoen.
Uiteindelik het die motorfietsryer homself in 'n doodloopstraat bevind en die motorfiets neergegooi waarna hy te voet probeer vlug het.
Viljoen het hom egter vasgekeer en die polisie ontbied waarna die verdagte in hegtenis geneem is.
"Ons het die motorfiets se eienaar opgespoor. Hy het nie eers geweet sy motorfiets is gesteel nie, maar hy was baie dankbaar dat dit so vinnig gevind is."
Die eienaar van die motorfiets het nie eers besef dit was gesteel nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'