Dié Mosselbaaiers wat meer as driekwart van die 95 kilometer-roete voltooi het, is op 5 Mei na vyf dae se stap, via 'n nooduitgang deur beamptes van Namibia Wildlife Resorts uit die vallei begelei. Die gewilde staproete is later daardie dag deur die Namibiese Departement van Omgewing en Toerisme tot verdere kennisgewing gesluit.
Die staptog
Bykans een week na vanjaar se Visrivier-vallei-stapseisoen op 1 Mei geopen het, moes digby 20 stappers van regoor die wêreld uit die vallei gered word.
Die watervlak van die Visrivier het gedurende die eerste week van Mei tot lewensgevaarlike hoë vlakke gestyg. Dit het gevolg na groot volumes water uit twee van Namibië se grootste damme - die Hardap- en Nautedam gelaat moes word weens swaar reën in groot dele van die Suide van die land.
Twee dae na die groep Mosselbaaiers uit die vallei gehelp is, het die water reeds die Ai-Ais-oord in die Benede-Visrivier bereik waar die vloei 'n piek van 190 kubieke meter per sekonde bereik het.
Toe die groep Mosselbaaiers - een van die eerste groepe wat die roete vanjaar aandurf - op 1 Mei in die vallei afgesak het, was hulle salig onbewus van die uitdagings wat op hulle gewag het.
Die eerste swaar reën van die week het op die tweede dag van die staproete uitgesak. Weens die reeds hoë vlak van die Visrivier was die gebruiklike sanderige roete op die rivierbed onbegaanbaar. Van die lae watervlakke waar stappers gewoonlik enkelhoogte deur die rivier stap, was daar geen sprake nie. Die groep Mosselbaaiers moes noodgedwonge hulle weg op die gladde rivierrotse vind.
'n Lid van die groep, Piet van Rensburg wat sy vierde Visrivier aangepak het, sê dié was die uitdagendste toestande wat hy nog teëgekom het. "Ons moes deurentyd waak om nie op die rotse te gly en in die sterk rivier-stroom te beland nie."
Soos die groep op die staproete gevorder het, het die toestande vererger. By sommige plekke op die roete waar die rivier oorgesteek moes word, was die water etlike meters diep. Die Mosselbaaiers moes bootjies vir hulle rugsakke prakseer en in 'n sterk stroom na die oorkantste oewer swem.
Dit was nie net die Mosselbaaiers wat deur diep waters was nie. 'n Groep van drie stappers van Bela-Bela, Klokkelaan en Centurion het hulle op die voorlaaste dag van die staptog by die Mosselbaaise groep aangesluit na een van hulle groeplede gegly en haar gewrig gebreek het.
'n Lid van die Mosselbaaise-groep Wessel de Lange het ook onder die moeilike toestande deurgeloop. De Lange en sy dogter Elisca was onderweg om die vallei by die nooduitgang by Sulphar Springs te verlaat, toe 'n los klip bo-op De Lange geval het. Sy pols is gebreek en skouer ontwrig.
Op die vyfde dag van die staptog was die Mosselbaaiers en al hulle toerusting papnat na 'n wolkbreuk die vorige nag. Reënval rondom 70 millimeter is deur die stappers gemeet. Intussen het die nuus dat die sluise van die Hardap- en Nautedam oopgemaak is, meeste van die stappers in die vallei bereik. In 'n poging om die staproete te voltooi voor die vloedwater die vallei bereik, het die Mosselbaaiers besluit om meer as 30 kilometer op die laaste dag af te lê. Personeel van die NWR het die groep egter by die Kochasdrift-nooduitgang ingewag en die staptoer kortgeknip.
Die groep Mosselbaaiers was egter allesbehalwe in sak en as oor hulle avontuur kortgeknip is. Theunis Schutte is spyt dat hy nie die roete kon voltooi nie, maar is oorgehaal om later vanjaar terug te keer.
Craig Mitchell, Piet van Rensburg en Nadine Mitchell stap langs die Visrivier
Die beroemde Visrivier-spoelvallei - die vol Visrivier is duidelik sigbaar.
Die Visrivier is vanjaar voller as wat enige van die stappers dit nog ooit gesien het.
Nadine en Craig Mitchell en Maurice van Egmond saam met Lizette Cloete, Derek Stedall en Jitske Steenkamp op die roete.
ARTIKEL VERSKAF DEUR DIE MOSSEL BAY ADVERTISER, SUSTERKOERANT VAN DIE GEORGE HERALD.