Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Twee mans wat Maandagoggend helder oordag besig was om vullissakke uit hulle bakkie reg langs Binnestraat af te gooi, het hulle Moses teëgekom toe 'n kwaai motoris by hulle gestop het om 'n video as bewys te neem.
Charl Marais, stigter van Keep George Clean, sê hy was toe reeds self op die toneel om met die oortreders te praat en te verduidelik dat dit onwettig is. 'n Motoris het amper op dieselfde tyd aan die anderkant van die pad stilgehou toe hy die gemors sien, uitgespring en dadelik 'n video begin neem.
Die oortreders is geen ander keuse gelaat as om hulle vullis vinnig in die bakkie terug te sit nie.
Die voorval het om ongeveer 08:30 in volle sig van verbygaande verkeer plaasgevind. Die bewyse is op die My Smart City George-toep gelaai.
"Die oop stuk grond hier in Binnestraat is 'n problematiese area. Mense stort gewoonlik na-ure of oor naweke hier, maar hierdie ouens was gewaagd genoeg om dit sommer in spitstyd te doen. My manne maak gereeld hier skoon, maar dis net twee of drie weke, dan is dit weer vuil," sê Marais.
Sy span het Dinsdagoggend vroeg ingespring om die area te gaan skoonmaak en die George-munisipaliteit het ook opgedaag om vullis op 'n ander gedeelte in die straat te verwyder, waarskynlik in reaksie op die toepboodskap.
"My spannetjie was net klaar en was al weer op 'n ander plek daar naby besig toe 'n man stilhou, 'n werker met 'n groot venster uitklim, die ruite uitslaan om die glas agter te laat, en die raam weer in te laai. Hy het ewe 'n skroewedraaier gebruik om die raam skoon te maak. Dis 'n klassieke voorbeeld van wat hier aangaan," sê Marais.
VOOR: Die terrein waar kroniese onwettige storting plaasvind en waar die twee mans hulle vullissakke openlik gaan afgegooi het.
"Aan die een kant wil ek moedeloos raak, want dit voel soos 'n eindelose stryd om oor en oor op dieselfde plekke skoon te maak, maar ons sien tog stadigaan 'n verbetering in die industriële gebied waar besighede gehoor gee aan Keep George Clean se pleidooie om voor hul eie plekke skoon en netjies te hou."
Die munisipale kommunikasiebestuurder, Chantèl Edwards, het by navraag gesê die saak is na die Wetstoepassingsdepartement verwys.
"Beamptes sal uitgestuur word om die voorval te ondersoek, en die nodige wetstoepassingsaksies sal geneem word gebaseer op die fotografiese bewyse wat verskaf is."
Die huidige boete vir onwettige storting is R1 000 per oortreding. Sy het gesê waar herhaalde oortredings geïdentifiseer word, kan verdere regsaksie ingestel word in lyn met munisipale verordeninge. (Lees haar volledige antwoord by www.georgeherald.com.)
Belastingbetaler moet hoes
Onwettige storting kos die belastingbetaler elke jaar miljoene. Die munisipaliteit het in Desember met 'n skoonmaak- en opvoedingsveldtog begin waarvoor R16.34 miljoen begroot is.
Dit word spandeer aan die deurlopende opruim van die tallose plekke in die dorp waar onwettige storting plaasvind, asook opvoeding van die publiek in die hoop om oor die langtermyn gedragsverandering teweeg te bring.
VIDEO:
NA: Bradley Louw en Gino Potts van Keep George Clean op die terrein nadat hulle skoongemaak het.
Die bestuurder van die bakkie het ontken dat hy gestort het nadat sy werker hierdie raam afgelaai en die ruite uitgeslaan het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’